Die Boishaaier Chris Jordaan, wat meer as ’n maand gelede ’n ernstige kopbesering tydens ’n rugbywedstryd in Pretoria opgedoen het, is op die been en op pad terug Paarl toe.
Die Hoër Jongenskool Paarl was verlede maand een van vele skole wat aan die NMI Toyota Menlyn-Noord-Suid-rugbytoernooi deelgeneem het.
Chris het in die vierde minuut van die wedstryd teen die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in ’n kontaksituasie op ’n baie lelike manier geval en sy kop teen die grond gestamp.
’n Noodoperasie moes op die 17-jarige gedoen word om drukking op sy brein te verlig en van die bloeding ontslae te raak.
Chris doen sedertdien baie goed en sy pa, ook Chris Jordaan, sê hulle is baie verlig en dankbaar vir sy goeie herstel tot dusver.
“As jou kind amper dood was en hy is waar hy nou is, is jy verskriklik bly. Hy moet steeds rehabilitasie ondergaan, maar ons is baie dankbaar.
“Hy het in ’n stadium vir sy lewe geveg en ons het ook vermoed hy het breinskade opgedoen, maar daar is geen teken daarvan nie.
“Ons wil ook net baie dankie sê vir almal se gebede en die liewe Vader daarbo, want die dokters hier sê dit is ’n wonderwerk wat gebeur het. Die dokters sê hulle ken dit nie en sê die tydperk wat hy herstel het, is ongewoon. Hulle het hom twaalf weke gegee, en hy het dit in ses weke gedoen.”
Jordaan kan nie genoeg dankie sê vir almal se ondersteuning en hulp in die tyd wat Chris in die hospitaal was nie.
Affies het Chris Woensdagoggend verwelkom met ’n byeenkoms en hom verder sterkte toegewens.
Jordaan sê hulle land Vrydag by die lughawe in Kaapstad en sien daarna uit om hierdie naweek langs die rugbyveld te sit.
“Ons sal net ná middagete in die Paarl wees.”
“Ons gaan die naweek by Boishaai rugby kyk, waar hulle teen Paul Roos speel.





