Met Moedersdag agter die rug, laat dit my elke keer met ’n hele paar vrae. ’n Spesiale besoek aan mamma is gedoen, ekstra aandag is gegee, geskenkies en mooi woorde gegee en gesê, maar wat nou?

Gaan dié bederf nou eers weer volgende jaar gedoen word? Word daar dwarsdeur die jaar kontak gemaak, of ten minste gereeld?

As ’n ouer byvoorbeeld in ’n ouetehuis is, word daar gereeld besoek afgelê? Hoeveel gehalte-tyd maak jy vir jou ma en/of pa of wag jy vir ’n spesiale geleentheid soos Moeders- en Vadersdag om tyd met hulle deur te bring?

Bring jy die spreekwoordelike blomme terwyl hulle leef? Of wil jy eerder die mooiste of ’n emosionele huldeblyk lewer by hul begrafnis? Ek dink ook nie noodwendig net soos vir jou biologiese ouers (ingeval van spesiale dae) nie, maar ook vir hulle wat werklik ’n impak in jou lewe gemaak het (of steeds maak).

Daar is soveel mense wat die rol van ma of pa vir baie kinders speel. Oumas veral, wat oor die jare heen kleinkinders versorg omdat die ma en pa nie omgee nie, of moet werk om kos op die tafel te sit en nie tyd het of kan maak vir hul kinders nie.

Dis vir hulle wat jy nie moet wag vir ’n spesiale dag om ten minste jou liefde en dankbaarheid te wys nie.

Weet jy, mense het ook nie noodwendig duur geskenke nodig as ’n blyk van jou waardering en liefde nie.

Somtyds, of in die meeste gevalle, het iemand of daardie persoon op wie jy honderde rande spandeer tydens sulke spesiale dae of tye slegs jou tyd saam met hulle nodig.

Gehalte-tyd word nie in rand en sent gemeet nie. Dis daai kosbare oomblikke van saam lag, gesels, herinneringe bou, iets saam doen wat julle dalk lanklaas gedoen het.

Laat die persoon voel hulle word waardeer, deur dalk net te luister na wat hulle te vertel het, en moenie jy heeltyd kerm en kla oor hoe stout die kinders is, of hoe lui jou maat is, of hoe hard jy werk om alles gedoen te kry nie.

Moenie heeltyd kyk of sê hoe laat dit is, of hoe vinnig die tyd geloop het, en wat jy nog moet gaan doen ná die kuiertjie nie. Laat die persoon voel en ervaar dat sy of hy vir jou op daai oomblik die belangrikste en van waarde is.

Die lewe is so kort. Ons het dit veral die afgelope jare aan ons eie lyf gevoel toe geliefdes rondom ons gesterf het, mense wat ons gedink het nog lank met ons gaan wees.

Ek het vir die matrone, Alvira Kleynhans, van een van ons ouetehuise in Paarl gevra wat hulle die afgelope Moedersdag, of oor die algemeen oor die jare heen, ervaar het. Sy het geantwoord: “Die hartseerste deel is dat baie kinders vergeet van Moedersdag.”

Hulle vergeet van die totale bederf van Moedersdag, en die voorreg wat hulle het om ’n moeder te hê. Die wens is natuurlik dat die besoeke baie meer gereeld moet wees en nie slegs wanneer die ouer besig is om te sterf nie.

“Wat baie hartseer is, is wanneer van ons inwoners sterf, en op die dag van die begrafnis, sien ons dan so baie mense wat jy nooit ooit gesien het toe die persoon gelewe het nie,” sê Kleynhans.

“Ewe hartseer is ook dié van hulle wat jy sien wat hier is, wat niemand meer het nie. Jy sien daai verlange wanneer mense hul ouers kom besoek, jy sien die vreugde en blydskap, maar agter dit die verlange en trane. Dis baie hartseer.”

Sy het ook vir ’n pastoor genoem dat hulle in kerke Moedersdag moet terugneem na die basiese toe, soos dit in die verlede gedoen is, waar kinders in die kerk vir hul mammie ’n blommetjie aangesteek het.

“Tot ’n mate kry jy dan ook moeders in die kerk, met kinders wat nie net Sondagskool toe gestuur word nie. Daarby het diegene wat nie meer moeders het nie van die een Moedersdag tot die volgende een die geleentheid en tyd om ’n ma half aan te neem, wat hulle kan bederf.”

Kom ons doen wat ons kan, terwyl ons kan, soveel as wat ons kan, terwyl ons geliefdes lewe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article