Die munisipaliteit in die Paarl moet dringend iets in die Boulevard by die voetoorgang wat na die Arboretum toe lei, begin doen.

Ons as gesin gaan gereeld vir ontspanning Arboretum toe, en dit is absoluut skrikwekkend hoe motoriste teen hoë spoed reg oor die voetoorgang jaag sonder om eers effe stadiger te ry waar mense die pad hier probeer oorsteek.

Dit gaan nog eendag in ’n noodlottige voorval eindig as die munisipaliteit nie gou iets doen nie.

Ek stel voor dat hulle sowat 50 m voor die kruising, aan weerskante van die Boulevard, waarskuwingsligte aanbring om motoriste te waarsku dat die voetoorgang voor is.

’n Ander voorstel, wat sommer ook mense in die Boulevard sal laat stadiger ry, is om die kruising te lig en sodoende ’n spoedhobbel aan te bring.

Iemand van die verkeersdepartement kan gerus hier kom sit en kyk hoe jaag die motoriste – soggens en smiddae.

En aan die veiligheidsbeampte van ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy wat 24 Mei om 17:30 hier oorgejaag het toe ons die voetoorgang wou oorstap – vir jou gee ek maar net ’n toffie!


Bekommerde voetganger,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article