Die voortslepende kragkrisis dra by tot verdere onbeplande kragonderbrekings omdat diewe veral tydens beurtkrag kabels steel, dit ten spyte van taakspanne en hommeltuie wat ingespan word om dié euwel te beveg.
Voorvalle van koper- en kabeldiefstal en verwante kragonderbrekings word byna weekliks op die Drakenstein-plaaswag (DFW) se WhatsApp-noodgroepe aangemeld.
DFW se bevelvoerder, Daan van Leeuwen Boomkamp, het weer sy kommer hieroor uitgespreek.
Van Leeuwen Boomkamp sê sommige gebiede, soos die Sonstraalpad in Klein Drakenstein en Denneboomweg, word eenvoudig met misdaad en diefstal gehamer – “alles op die belastingbetaler se koste”.
“Wat het ooit gebeur met die taktiese reaksiespanne gefokus op kabeldiefstal,” het Van Leeuwen Boomkamp gevra.
“Dieselfde vraag geld vir die hommeltuig-span en ekstra wetstoepassers wat dié taak opgelê is.”
Hy meen ook dat nie een van DFW se aanbevelings, ten opsigte van die bekamping van kabeldiefstal, wat oor die jare aangebied is, oorweeg is nie, “wat nog te sê geïmplementeer?”
Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapdienste, Gerald Esau, het by navraag verseker dat die munisipaliteit multi-dissiplinêre spanvergaderings fasiliteer, wat op die bekamping van kabeldiefstal in die gebied fokus.
“Hierdie span sluit lede soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens en sy Non-Ferrous Metals Unit, Prasa, Transnet, en plaaslike sekuriteitsmaatskappye in,” verduidelik Esau.
Hy sê dat talle inhegtenisnemings deur die polisie gedoen is, ook danksy die hulp van die gemeenskap.
“Tegnologie word gebruik om die hoërisiko-gebiede gedurende werksure te monitor.
“Die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling verrig ook gereeld patrollies by munisipale geboue, rioolaanlegte en munisipale fasiliteite om kabeldiefstal en vandalisme te help voorkom en ons bates te beskerm.”
Hierdie patrollies (wat dikwels gebaseer is op wenke wat van die gemeenskap ontvang is,) word tydens kantoorure sowel as tydens Eskom-beurtkragtye uitgevoer.
“Drakenstein-munisipaliteit skakel gereeld met al die relevante belanghebbendes in dié veiligheidsnetwerk. Kabeldiefstal word gereeld aangemeld waarop die polisie reageer en mense aankeer.”
Volgens Esau is daar wel ’n afname in gevalle wat by die munisipaliteit aangemeld word, met 23 gevalle van kabeldiefstal wat gedurende die tydperk van Januarie tot Maart vanjaar aangemeld is, in vergelyking met 43 gedurende dieselfde tydperk in 2022.
Hy sê die totale uitgawes weens koperdiefstal en verwante herstelwerk vir die eerste kwartaal van 2023 was R221 122, in vergelyking met ongeveer R600 000 vir dieselfde tydperk in 2022.
Op die vraag of gesteelde materiale wat opgespoor word, nog bruikbaar is, sê Esau: “Van die infrastruktuur wat beskadig, gesteel of gevandaliseer word, kan teruggevind word, maar die meeste daarvan moet vervang word.”
- Die Drakenstein-munisipaliteit doen ’n beroep op die publiek om voorvalle van kabeldiefstal 24 uur per dag by 021 807 8508 aan te meld.




