Spanne van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit werk hard om die skade aan die sowat 3 500 km landelike en grondpaaie in die gebied te herstel ná die erge reën.Foto: KWDM

Credit: SYSTEM

Die opruiming ná verlede week se gure weer en swaar reën wat tot oorstromings in baie dele van die Kaapse Wynland gelei het, is goed op dreef.

Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM) het Donderdag (22 Junie) gesê sy tegniese dienste-departement is besig om instandhoudings- en herstelwerk aan te pak nadat skade weens die onlangse swaar reën ontstaan het. Dit sluit in herstelwerk aan landelike en grondpaaie.

“Die aansienlike skade veroorsaak deur die ongunstige weersomstandighede het ’n ernstige impak gehad op die grond- en landelike paaie wat die lewenslyn vir ekonomiese ontwikkeling in die distrik is,” lui ’n persverklaring van die KWDM. “Die instandhoudingspanne werk baie hard om herstelwerk aan die byna 3 500 km paaie wat onder die jurisdiksie van die KWDM val, te verrig.”

Volgens dr. Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die KWDM, het sy talle oproepe ontvang van “bekommerde inwoners” oor die toestand van die betrokke paaie ná verlede week. Sy voeg by dat die KWDM sy beste sal doen om die situasie te verbeter.

“Ek besef die belangrikheid van ons paaie, nie net vir die landbousektor wat daarop staatmaak vir die veilige vervoer van hul produkte nie, maar ook vir noodsaaklike dienste soos mobiele klinieke, ambulanse en skoolvervoer,” sê Von Schlicht.

Die skade wat sommige paaie opgedoen het, het daartoe gelei dat dit onveilig is om te gebruik. Die tegniese dienste-departement het egter die nodige maatreëls in plek gestel. Dit sluit die plasing van waarskuwingstekens, implementering van veiligheidsmaatreëls, assessering van die omvang van skade en die opstel van herstelroosters in gebaseer op beskikbare hulpbronne en die erns van die skade.

KWDM maak dit ook duidelik dat herstelwerk net plaasvind wanneer die weersomstandighede dit toelaat. Byvoorbeeld: vir grondpaaie is ’n minimum van twee of drie opeenvolgende sonnige dae nodig om toe te laat dat die nodige dreinering plaasvind voordat werk kan begin.

Die KWDM versoek motoriste om padtekens te volg en enige instruksies na te kom wat deur die spanne gegee word wat in die gebied werk – dit terwyl die distriksmunisipaliteit al sy hulpbronne en arbeidsmag tot die uiterste benut om selfs oor naweke te werk.

Die herstelwerk sal aaneenlopend voortduur, en vordering mag vertraag word deur die voorspelde reënval. Motoriste moet ook kennis neem dat sekere paaie sonder voorafgaande kennisgewing heropen of gesluit kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article