Toe Jacky le Roux nou die dag by haar tandarts gehoor het dat die dienste van ’n sogenaamde boedel-bedrieër-prokureur, Shonene Theunissen, steeds deur mense in die dorp aanbeveel word, kon sy haar ore nie glo nie.
Soos voorheen in Paarl Post berig, het Le Roux sedert die dood van haar ma in 2021 verdere verliese van byna R1 miljoen se boedel-koffer in die gesig gestaar nadat sy ter goedertrou die boedelmagte aan Shonene Theunissen toegeken het.
“Ek verwerk nou nog die diefstal van my ma, C.M. Gunter, se kontantboedel deur ene Shonene van die Paarl wat die rekening leeg gesteel het,” sê Le Roux.
Theunissen is steeds op vrye voet, selfs nadat sy ’n amptelike skulderkenningsdokument vir Le Roux onderteken het.
Sy het glo ook intussen verhuis van die woonadres waarmee Le Roux vertroud was.
Theunissen het teenoor Le Roux se prokureur Charl Ackerman erken dat sy die Gunter-boedel R529 000 skuld.
Sy het bowendien beloof om op 27 Januarie ongeveer R50 000 terug te betaal, waarna sy in paaiemente van R4 000 die res van die skuld sou afbetaal.
Theunissen het wel, volgens Le Roux, intussen minstens R4 000 betaal.
“Toe ek laas weer die state van die boedel bestudeer het, het dit gewys dat die R605 wat oorgebly het ook intussen uit die rekening onttrek is.”
Dié mate van vermetelheid gaan Le Roux se verstand te bowe.
Theunissen deur Valke ondersoek
By nadere ondersoek het ’n anonieme polisiebron ook aan Paarl Post bevestig dat Theunissen selfs onder die vergrootglas van die Valke geplaas is.
“Daar is al voorheen twee sake teen Theunissen aangemeld. Een saak gaan so ver terug as 2009 wat in Brackenfell aangemeld is, sowel as ’n 2014-saak wat destyds in Athlone aanhangig gemaak is.”
Die polisiebron sê die sake word reeds deur die Valke ondersoek, maar kon nie met sekerheid sê of dié twee sake sedertdien as een ondersoekdossier hanteer word nie.
Le Roux sê sy gaan onverpoos voort met haar eie ondersoek. “Ek sal nie rus tot ek minstens weet sy is van die strate af nie. Sy behoort toegesluit te word – daar waar sy nie ander mense kan bedrieg nie.”
Sy is ook bekommerd oor die stadige vordering waarteen die Paarl-polisie ondersoek instel, aangesien Theunissen nog op vrye voet verkeer.
Die polisiewoordvoerder kapt. Louise du Plessis het egter verseker die ondersoek is sterk aan die gang, maar dat sommige van Le Roux se bewerings tyd neem om met sekerheid te bevestig.
“Aangesien Le Roux beweer dat Theunissen van die boedelgeld na ander bankrekenings oorgedra het, moet die ondersoekbeampte eers die betrokke bank dagvaar om wettige toegang tot die rekeninge te verkry en die bewerings te bevestig,” verduidelik Du Plessis.
Nie-praktiserende prokureur
Intussen het Paarl Post navraag oor Theunissen se praktisynstatus by die Suid-Afrikaanse Regspraktykraad (LPC) versoek.
Die LPC se woordvoerder, Kabelo Letebele, het bevestig dat Shonene Edith Theunissen as ’n nie-praktiserende prokureur in hul databank gelys is.
“Ons het nie klagtes wat verband hou met die Valke-ondersoek of die [Gunter]-boedel nie, maar klaer(s) mag egter klagtes by ons kantore in hierdie verband indien – aangesien enige lid van die publiek ’n klagte teen ’n regspraktisyn by die LPC kan indien.”
Letebele verduidelik die LPC se benadering wanneer regspraktisyns strafregtelike aangeleenthede het, is om die rekord van die verrigtinge van daardie aangeleenthede op te spoor.
“. . . En in die geval dat die hof hulle skuldig bevind, is ons in ’n posisie om op te tree, wat kan insluit om by die hof aansoek te doen om hulle van die raad te skrap, aangesien hulle waarskynlik nie geskik sal wees om in die regsberoep te bly nie.”
Theunissen se prokureur, Andalé Benjamin, is om kommentaar benader en het by terugvoering meegedeel dat “ek het as Shonene Theunissen se prokureur van rekord onttrek en weet nie waar sy haar bevind nie. Ek kan dus geen verdere kommentaar lewer nie.”
Theunissen kon nie op haar selfoonnommer bereik word nie.
Paarl Post het ook pogings aangewend om die aard van ander ondersoeke teen Theunnissen, soos die deur die Valke ondersoek, te bepaal. Aangesien die presiese saaknommers steeds aan Paarl Post onbekend is, kon geen definitiewe bevestiging verkry word nie.





