Sport speel gewis ’n groot rol in gemeenskappe, nie net vir die talente wat hier ontdek word nie, maar ook vir die waardevolle bydrae wat sport speel tot karakterbou.
Dit is ook algemeen bekend dat sport ’n groot rol in die inwoners van Drakenstein se lewe speel en die emosies oor sportfasiliteite is soms net so vurig soos hul passie.
Met Drakenstein se verskeie sportkomplekse waar verskillende sportkodes oor die hele vallei aangebied word, is die vergrootglas weer op die toestand van sekere sportkomplekse, en meer so op die ontwikkeling van De Kraal.
’n Klagte is weer deur ’n ongelukkige inwoner geopper oor die “stadige pas” waarteen De Kraal ontwikkel word.
Volgens Gerald Esau. uitvoerende direkteur: Gemeenskapsdienste by Drakenstein-munisipaliteit kon die eerste kontrakteur nie die werk volgens die spesifikasies en gespesifiseerde tydslyn voltooi nie en het dié kontrakteur homself dus skuldig gemaak aan kontrakbreuk. Die munisipaliteit moes gevolglik die kontrakteur se dienste opskort.
Esau het vroeër vanjaar aan Paarl Post gesê die fasiliteit is bestem vir rugby en die breë publiek sal ook toegang hê tot ander aktiwiteite.
Jaarliks word daar as deel van die munisipale begroting, geld opsy gesit vir De Kraal en vir die nuwe finansiële jaar word R3 miljoen vir werke daar begroot.
“Die munisipaliteit kan bevestig dat die kaartjieskantoor grotendeels voltooi is en dat enige moontlike defekte tans gehanteer word,” het Esau gesê.
Hy sê van die 2016-’17 boekjaar tot die 2022-’23 boekjaar is die volgende werk reeds by De Kraal gedoen: Die verwydering van bome; die bou van ’n grensmuur; installering van ondergrondse infrastruktuur; aanlê van water en riool-infrastruktuur; installering van elektrisiteit; bou van ’n kaartjieskantoor; installering van hekke; en die aanlê van twee velde met dreinering en besproeiingstelsels.
“Tans is die kontrakteur besig met die eerste fase van die sypaadjie se teerwerk en met plaveiselwerk by die ingang. Die tweede fase van die teerwerk van die parkeerarea sal in die nuwe boekjaar van 2023-’24 begin.”
Hy het ook verduidelik dat die ontwikkeling van De Kraal ’n meerjarige projek is, wat bestem is vir voltooiing in die 2025-’26 boekjaar – “afhangend van beskikbare fondse”.
In die nuwe begroting is ook R3 miljoen opsy gesit vir Dal Josafat-stadion se parkeerterrein.
“Die parkeerarea-projek sal in die nuwe boekjaar (1 Julie 2023) begin en behoort aan die einde van die 2023-’24 boekjaar voltooi te wees.”
Volgens Esau word geen werk in die nuwe boekjaar by die Weltevrede-sportgronde en Pelikaanpark beplan nie.
“Die munisipaliteit bevestig dat daar uitdagings met vandalisme is, wat ons in samewerking met die SAPD probeer bekamp,” sê Esau, met verwysing na Weltevrede-sportgronde en Pelikaanpark.




