Jeugdag het weer gekom en gegaan en geen verandering of verbetering gebring in die lewe van hulle vir wie dit bedoel is nie. Soos alles waarop die ANC sy hande gelê het, is dié geërfde pot goud ook nie opgepas en versorg nie.

Hulle het nie toegesien dat die jeug gelei en opgevoed word sodat hulle trotse Suid-Afrikaners kan wees wat ons land vir die regte redes op die wêreldkaart hou nie.

Die duisende, uit die miljoene jeugdiges, wat deur die jare presteer het en ’n sterk skakel is in die arbeidsmark, het op eie inisiatief en bloedsweet daar gekom. Daar is ’n merkwaardige klomp jongmense uit alle kultuurgroepe, wat sedert 1994 uitgestyg het en oral in die land noodsaaklike en positiewe bydraes maak vir die heil van Suid-Afrika. Hulle wat besluit het om hier te bly en te werk, verdien lofsange en dankies omdat ons almal daardeur bevoordeel word.

Nie almal van hulle was tersiêr opgeleides wat hoë poste beklee met groot salarisse nie, maar is van die rêrige swaarkry-mense wat wil werk en eerbaar geld verdien. Mense soos die energieke straatveërs en vrolike, weeklikse vullisverwyderaars soos ek hulle gereeld hier sien. Is hulle nie ’n voorbeeld vir miljoene nie? Hulle verdien ook dankies en respek.

Net hier begin my kop wilde draaie hardloop met hoekoms en waaroms en probeer ek parallelle trek tussen die jeug van my tyd en dié van post-Apartheid.

Hoe het ons geweet om die regte spoor te hou asook die konsekwensies te vat, sou ons verkeerd trap en uitgevang word? Iewers moet daar ’n onsigbare ingeboude iets wees in individue, wat mense oor eeue heen óf positief rig en op die regte pad hou óf andersom? Te veel “andersom” is in Suid-Afrika.

Die koshuiskos was taamlik nie-lekker nie en ons het op respekvolle wyse gekla. Nie geprotesteer deur die inhoud van die kospotte op die skoolterrein uit te gooi, soos by Alexander-hoërskool nie. Of die onderwysers aangerand wanneer ons gedissiplineer is nie. Ook nie ge-messteek en ge-babas vir Afrika nie en gemoor, verkrag, geplunder en geroof asof dit die nasionale sport is nie. Hoe het ons geweet sonder ’n skoolvak oor seks en inligting oor gebruik van gratis voorbehoedmiddels om ons eie en ander se liggaam te respekteer en op te pas?

Op Loeriesfontein het swart-, bruin- en witmense in vrede met mekaar geleef. Inwoners was interafhanklik van mekaar vir voortbestaan. Almal het mekaar geken en aanvaar en respekvol opgetree. Leeglêers was daar nie.

Die enigste somtyds-dronkie was Ou Esau. Hy het op sy boude dorp toe geskuifel vir besoek aan die Off Sales, nadat sy bene geamputeer is. Selfs hy was netjies. By die Turners se winkel en Bontbul se slaghuis het sy tiekie of pennie altyd meer gekoop as ander mense s’n. Deur alles het verskeie jongmense uit al die Loeriesfonteiners indruk gemaak, nasionaal asook internasionaal.

Ons was nie so goed omdat ons by geboorte met engelvlerke en stralekranse uitgerus is nie. Satan het net nie hoogty in ons lewe gevier nie. Ons het oom Martiens Boud se turksvylaning onwettig besoek, wetende dat hy met ’n sout-gelaaide haelgeweer op diewe skiet. Maar: Ons het hom en die tannie nie aangerand nie. Toe ons die nag gevang is terwyl ons oom Piet Hak se biltong steel, het ons die pynlike gevolge gedra. Die skoolhoof het die Blousool op die seuns se sitvlakke gebruik en op ons meisies se hande.

Boesmanlandse kinders het baie jonk leer motor bestuur en sonder lisensie, onder ouerlike toesig, die motor of bakkie “gedrywe”. Soms sonder toestemming ook. Soos Mannetjie Mossie, net vyftien, een namiddag sy hande gelê het op sy pa se rooi Kombi. Hy en sewe van ons het buite die dorp rond ge-cruise terwyl ons rock ’n roll-liedjies sing. Agterna het almal weer ongedeerd skelm teruggeglip in die koshuis.

Daar was wel Dirkie Kotze, net dertien, wat dikwels Sondagmiddae sy dowe oupa se Studebaker-bakkie “geleen” het om sy boesemvriende vir ’n joy ride buite die dorp te vat. Nooit gevang. Nooit ge-ongeluk.

Daar was een ongeluk. Marius Nel in standerd sewe en toe al Elvis Presley se ewebeeld, het sy pa se Ford Fairlane buite die dorp op die Calvinia-pad afgeskryf. Hoekom sy pa besluit het hy moet ’n draai daarmee ry, weet ek nie. Al wat hy gesê het vir die wonderbaarlik ongedeerde Marius, was: “Toemaar Boeta, pappa koop weer ’n ander een vir ons.”

Baie onhebbelikhede is gepleeg deur my jeuggenote, maar nie soos vandag s’n nie. Ons het ook nie gehou van die universiteit se eksamenrooster nie, maar nie uit protes die gebou aan die brand gesteek nie en universiteit personeel vermoor? Nee.

Jeugdag is dus net so ’n groot grap soos Ramaphosa met sy honderd-plus gevolg wat nie eens protokol ken nie en sowaar dink Rusland en Pole sal na hom luister. Jammer President en Kie. Julle almal is van dieselfde rolletjie afgeskeur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article