Hoewel raadsvergaderings van die Drakenstein-munisipaliteit oop is vir die media en lede van die publiek, word portefeulje-vergaderings hier egter agter toe deure gehou.

Burgemeesterskomiteevergaderings waar verskillende kwessies en projekte intensief bespreek word, voordat dit na die munisipale raad vir oorweging verwys word, mag nie deur gewone raadslede bygewoon word nie en sedert ’n paar jaar gelede ook nie meer deur die media nie.

“Burgemeesterskomiteevergaderings bied aan die uitvoerende burgemeester en sy leierspan die geleentheid om in ’n geslote vergadering beleid, meriete en aanbevelings aan die raad met senior amptenary te bespreek. Dié vergaderings is vertroulik en word nie deur die Ordereëls van die Raad gereël nie,” het Koos le Roux, speaker van Drakenstein- munisipaliteit, gesê.

’n Inwoner het onlangs Paarl Post se aandag daarop gevestig dat burgemeesterskomiteevergaderings by die buurmunisipaliteite wel oop is vir die media. Stellenbosch-munisipaliteit sowel as Swartland-munisipaliteit se burgemeesterskomiteevergaderings is wel oop vir die media. Stellenbosch-munisipaliteit deel selfs maandeliks ’n aanlynskakel waarop inwoners ook kan inluister op dié vergaderings.

Le Roux het wel gesê die raadsvergaderings van die Drakenstein-raad is oop vir die publiek, behalwe vir dié gedeelte waar vertroulike items gehanteer word.

“Die speaker kon tot op datum nog altyd sitplekke vir die publiek wat bywoning versoek in die vergaderings akkommodeer. Die aanbied van aanlynskakels na raadsvergaderings vir die publiek word ondersoek.”

In verlede maand se raadsvergadering het raadslede van opposisiepartye ook hul ongelukkigheid uitgespreek oor die agenda van die raadsvergaderings wat hulle glo baie laat ontvang en dus nie genoeg tyd het om sorgvuldig deur die agenda te werk nie en om so hul naam te voeg by onderwerpe waaroor hulle vrae het nie.

Volgens Le Roux word kommunikasie aan raadslede voorgeskryf deur die Drakenstein-munisipale raad se stel ordereëls. “Agendas, wat alle items en aanvullende dokumente insluit, word 72 uur voor raadsvergaderings aan raadslede deurgegee. Belangrike items soos die konsepbegroting, begrotingsbeleide, konsep-geïntegreerde ontwikkelingsplan en verordeninge word reeds twee maande voor die finale goedkeuringsraadsvergadering onder raadslede versprei om hulle voldoende geleentheid te gee om insette te lewer en ook om publieke deelname te verseker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article