’n Bloedbad ná minstens twee onverwante botsings buite die Paarl het die afgelope Saterdagnag (1 Julie) menige beseerdes en bevestiging van minstens twee vroue wat op die toneel doodgery is, opgelewer.
Die dood van twee vroue op die Bo-dal-pad tussen Paarl-Oos en Mbekweni volg nadat een vrou aanvanklik op die pad gestap en deur ’n onbekende voertuig omgery is.
“Die vrou is die aand op die Bo-dal-pad omgery deur ’n voertuig wat volgens ooggetuies ná die botsing van die toneel af weggery het.
“Die vrou se kêrel en drie ander mense het hulle glo na die toneel gehaas om die beseerde vrou te help,” verduidelik ’n betroubare nooddienswerker aan Paarl Post.
Daarna het nóg ’n voertuig dié drie mense, wat die vrou te hulp gesnel het, in ’n tweede tref-en-trap-ongeluk etlike minute ná die eerste geval, op dieselfde plek omgery.
Die tweede voertuig het ook van die toneel af weggery.
Die bron het bevestig dat een vrou op die toneel dood is, terwyl die ander vrou met ernstige beserings deur ER24-ambulansdienste na ’n hospitaal geneem is.
“Sy het egter in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Twee mans is in ’n bestendige toestand per ambulans na die Paarl-hospitaal vervoer,” het hy verder gesê.. Twee bakkies was dieselfde aand op die R44 en die Voor Paardeberg-pad ook in ’n botsing betrokke.
’n Nooddienswerker wat op die toneel was, sê ’n BMW wat in die rigting van Wellington op pad was, het daarna in die voertuie in die bakkie-botsing vasgery.
“Die bestuurder van een van die bakkies en ’n vrou in die BMW is in ’n ernstige dog bestendige toestand met ambulanse na die Paarl-hospitaal vervoer. Die bestuurder van die ander bakkie en vier insittendes is met ligte beserings na die Mediclinic Paarl en die Paarl-hospitaal vervoer.
By navraag het die stasiebevelvoerder van die Paarl-polisie, kol Z. Xela, bevestig die Paardeberg-voorval word ondersoek.





