Twee ongelukke op R44 eis Courtrai onderwyser en nog ‘n man binne 24 uur

In die Bergrivierbrug-voorval was twee voertuie, ’n bakkie en ’n ligte voertuig, in ’n trompop botsing betrokke. Albei bane was vir verkeer gesluit sodat nooddienste die pad kon opruim.Foto: Facebook/Mike Charlie 1

Credit: SYSTEM

Die noodlot het die R44 buite Wellington in die afgelope 24 uur hard getref nadat twee mense in afsonderlike voorvalle ná gruwelike ongelukke op dié pad gesterf het.

Gideon Fourie (25), ’n onderwyser van Laerskool Courtrai, het Woensdagaand op die Bergrivierbrug voor die Puma-vulstasie ná ’n botsing met ‘n ander voertuig gesterf.

Volgens ’n nooddienswerker is die Bergrivier-ongeluk Woensdagaand net ná 19:00 aangemeld.

“In dié geval was dit twee voertuie, ’n bakkie en ’n ligte voertuig, wat in ’n trompop-botsing betrokke was. Albei bane was vir verkeer gesluit sodat nooddienste die pad kon opruim.”

Motoriste moes omdraai en van alternatiewe roetes gebruik maak.

Etlike ure later is nóg ’n man vanoggend (Donderdag 13 Julie) dood nadat hy op die Hermonpad R44 net buitekant Wellington, verongeluk het

Een man is Donderdagoggend dood nadat twee swaarvoertuie en een Volkswagen Polo in die botsing op die Hermonpad betrokke was.Foto: Verskaf

Hierdie keer was daar twee swaarvoertuie en ’n Volkswagen Polo in die botsing op die Hermonpad betrokke.

’n Nooddienswerker het verduidelik dat die Polo van agter deur ’n vragmotor getref is toe die bestuurder van die Polo van die R44 na Denel se rigting wou regs draai.

“Nadat die voertuig van agter getref is, het die Polo dwars in die pad in aankomende verkeer beland. Dit was toe dat ’n abnormaal swaar voertuig in die aankomende baan uit Hermon se rigting die Polo tref.”

Volgens Eddie Buxman wat op die R44 Hermonpad boer en groot kapsie maak oor die gevaar wat dié pad inhou, was die oorlede Polo-bestuurder glo ’n werknemer by Rheinmetall Denel Munition. Die man se identiteit is nog nie aan Paarl Post bekend nie.

Die bevelvoerder van Wellington-polisie, kol. Johan Barkhuizen, sê hy weet van die Bergrivier-voorval wat tans ondersoek word.

’n Onderwyser van die Laerskool Courtrai, Gideon Fourie, het Woensdagnag op die Bergrivierbrug voor die Puma-vulstasie in ’n botsing gesterf.Foto: Facebook/ Laerskool Courtrai Primary School

Fourie, was ’n geliefde onderwyser van die Laerskool Courtrai. Medelye is Donderdagoggend op die skool se Facebook-blad gedeel: “Dit is met diep hartseer dat ons ’n groot gees moet groet. Gideon Fourie was ’n geliefde lid van die Courtrai-familie. Sy menswees en liefde vir die kinders was van onskatbare waarde vir ons ouers, personeel en die Paarl-gemeenskap. Ons dink aan sy familie in hierdie moeilike tyd. Rus sag, Gideon. Ons gaan jou baie mis.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article