Foto dien slegs as illustrasie.Foto: Unsplash


Toe ’n Wellingtonse man verlede Saterdagoggend kort ná middernag met steekwonde in die Paarl-hospitaal behandel is, het dié beseerde slagoffer se familie die messteek-verdagte in dieselfde hospitaal herken.

Die slagoffer, bekend as die 28-jarige Brian Fransman, het aan sy wonde beswyk, het die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, bevestig.

Dit was ná ’n messteekvoorval om sowat 23:50 Vrydagnag (30 Junie) in Dietmanstraat, Wellington, wat die naweek aangemeld is.

In die polisieverslag word verwys na ’n selfoon wat tydens die voorval gesteel is.

“Die Paarl-hospitaal het die polisie ingelig van ’n man wat met steekwonde ingebring is. Die [slagoffer se] familie het toe na ’n ander man, wat ook mediese behandeling ontvang het, gewys en gesê hy is die verdagte wat die oorledene gesteek het.”

Die verdagte, Andries Jonkers, is van regte bewusgemaak, waartydens hy toe aan die teenwoordige polisiekaptein erken het hy het die slagoffer gesteek.

Hy is in hegtenis geneem en ’n saak van moord word tans deur die Wellington-polisie ondersoek.

Jonkers het intussen in die Wellington-hof verskyn, en moet op 28 Julie weer in dieselfde hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article