Food Lover’s Market in die Paarl.Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

Hoewel Food Lover’s Market bekend is vir sy uitstekende spaaraanbiedings, het ’n onbekende oortreder vandeesweek ’n duur les vir die prys van twee gebreekte enkels betaal toe hy oor dié perseel in die Paarl se muur gespring het.

Die man is Maandagoggend in ’n beseerde toestand op die winkel se perseel gevind nadat hy gedurende die nag oor die heining gespring en homself beseer het.

’n Betroubare nooddienswerker wat op die toneel was, het Paarl Post ingelig dat albei die man se enkels ná die val vanaf ’n hoë heining op impak gebreek het. Die beseerde is toe na Paarl-hospitaal geneem.

’n Mede-eienaar van Food Lover’s vertel een van sy werkers het die man onder ’n ou bakkiekap agter in die perseel sien lê. “Ek is nie seker hoe lank die man daar gelê het nie. Toe ons hom vind, het ons eenvoudig ons veiligheidsmaatskappy ontbied en hulle het toe die ambulans uitgeroep om hom te behandel.”

Volgens hom is dit maar een van vele insidente van oortreders op Food Lover’s se perseel, “soveel so dat ons al hoë omheinings met elektriese diefwering geïnstalleer het.

“Hierdie ouens, meestal haweloses, spring byna daagliks oor hierdie mure. Buiten die algemene inbraak nou en dan, is dié ouens meestal agter die waste aan wat hulle mos so herwin.”

Die mede-eienaar verduidelik dié tipe verdagtes beweeg so vinnig in en uit die perseel sodra hul gegryp het waarna hulle soek. Hy bieg dat hy nie eens ’n poging aangewend het om die geval by die polisie aan te meld nie. “Maar toe hy daar in pyn lê, sê ek vir hom: ‘Laat dit nou vir jou ’n les wees’, waarop dié ou toe antwoord dat hy dit nooit weer sal waag nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article