’n Geliefde husky, genaamd Hogan, wat sewe jaar lank die gesin en kliënte by Horse and Style se liefdevolle vriend was, is verlede week koelbloedig tussen sy een groen en een blou oog doodgeskiet.
“Ons perdewinkel net buite Paarl in Windmeul is al 10 jaar lank oop. Ons geliefde husky, Hogan, wat sewe jaar lank deel was van die winkel en wat kliënte kom groet het, is op Maandag 10 Julie doodgeskiet.”
So vertel Desiré Jordaan en haar dogter, Schelize, oor hul tragiese troetel-verlies.
Desiré verduidelik dat Hogan ’n gesonde roetine gehad het, wat behels het dat hy elke aand omstreeks 19:00 sy draaie om die NG kerk of tot anderkant die Waterpoel-landgoed gehardloop het en dan binne vyf tot tien minute weer terug tuis was.
Sy het dié Maandag sommer gou besef iets is nie reg nie toe dié roetine deur sy ongewoon lang afwesigheid versteur is.
“Hy het weer sy draai gaan hardloop soos gewoonlik, maar ná 20 minute was hy steeds nie terug nie. Ons het begin ry en soek na hom, want dis glad nie sy geaardheid om weg te bly nie.”
Die Jordaans het by die kerk gaan soek waar hulle normaalweg met Hogan sou gaan stap, maar daar was niks. Toe is hulle uit na die R44 – en steeds niks.
“Met die terugkomslag huistoe ry ons toe weer verby die NG kerk in Windmeul, dié keer ongeveer 30 m van die winkel af, en hier lê ons prag-hond morsdood.”
Hogan is tussen die oë geskiet.
By verdere ondersoek kon hulle vasstel dat hy net so voor die kerk neergegooi is. Hulle vermoed hy is op ’n ander nabygeleë plek geskiet.
“Die persoon wat hom geskiet het, moes baie naby gestaan het, met ’n groterige kaliber soos ’n 9 mm, want die patroon is tussen die oë in, regdeur sy skedel en by die nek uit.”
Die vermoede is tans dat hy op die grondpad naby Waterpoel Estate geskiet is.
’n Saak hieroor is die dag ná die skietvoorval by die Paarl-polisie aangemeld, sê Schelize.
Sy vertel dat haar ma en boetie sewe jaar gelede vir Hogan by ’n man op die dorp gekoop het.
“Die man het geld broodnodig gehad, en dit is toe my ma besluit het om vir Hogan huis toe te bring.
“Hy was ’n geliefde hond by ons en ons kliënte. ’n Groot leemte lê nou by die winkel en die ses kleinkinders wat hom elke dag geniet het.
“Hy het nog nooit ’n hond of kind gebyt of ’n geringe bedreiging ingehou nie. Hy is eintlik ’n hond wat vir sy eie skaduwee bang was,” skerts sy.
“Dis ’n wrede ervaring. Dis nie net gemeen om ’n troeteldier dood te skiet wat niemand skade aangedoen het nie; dit is ook onwettig om iemand se dier te skiet en om skote in ’n woongebied af te vuur.”





