Om die herlewing van Arabies-Afrikaans verder te versterk bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) asook Historium Trust twee werksessies en besprekings oor hierdie unieke skryftradisie aan.
Die immer gewilde dr. Shamiega Chaudhari sal beginners op Saterdag 29 Julie via ’n moderne “madrassa”-klas touwys maak en op 25 November gevorderde skrywers begelei om onder meer spesifieke Afrikaanse klanke op die beste manier moontlik met die Arabiese skrif voor te stel.
As deel van die ATM se uitreik na die gemeenskap sal die instelling nie net ’n paar deelnemers borg om die werksessies gratis by te woon nie, maar ook gratis vervoer van Kaapstad se suidelike voorstede verskaf.
Die beginnerswerksessie is op 29 Julie van 09:00 tot 12:00 in die Historium Trust in Pastorielaan, Paarl, en kos slegs R300. Die inskrywing sluit ook ’n kort besoek aan die Taalmonument en Taalmuseum se Arabies-Afrikaanse uitstalling asook Kaaps-Maleise verversing in.
Om in te skryf, kontak Amila Ernstzen by 021 872 2022 of info@historium.co.za teen 24 Julie. Aansoekers kan haar ook nader oor borgskappe, en meer inligting kry oor die gratis vervoer wat waarskynlik van Athlone sal vertrek.
Sien intussen meer inligting op die ATM se webtuiste en taalmonument.co.za/arabies-afrikaans




