Dis een ding om sonder elektrisiteit klaar te kom, maar om sonder water te wees, is ’n heel ander saak.

Inwoners van Noorder-Paarl en Hillside in Paarl-Oos is diep ontsteld nadat hulle die verlede naweek vir sowat 24 uur geen water gehad het nie. Die Drakenstein-munisipaliteit het inwoners egter Saterdag (15 Julie) op sosiale media ingelig dat daar lekkasies is waaraan hulle aandag geen en besig is om te herstel.

Een inwoner van Hillside sê: “Die water was af van Saterdagmiddag tot Sondagmiddag. My vriende moes gisteroggend (16 Julie) vir my water bring vanuit Wellington. Dit was bitter sleg om so lank sonder water te wees.”

’n Inwoner van Noorder Paarl wat verkies om nie by name genoem te word nie, sê hulle is gereeld sonder water in die Noorder-Paarl-gebied en die afgelope naweek se droogte is niks nuuts vir hulle nie.

“Rakende die waterprobleem is dit vir my ’n bekommernis want ons kry nie waarskuwing voor die tyd nie. Ek verstaan pype breek, maar daar is nie ’n platform wat vir ’n mens sê daar het nou iewers ’n hoof-waterpypstelsel gebreek en hulle moet die water afdraai, en inwoners kan verwag dat dit solank gaan af wees nie. Tussen al die kragonderbrekings is dit ook nog ’n storie. Jy staan byvoorbeeld vroeg op om gou ’n bondel wasgoed te was voor die krag afgaan en dan kom jy agter maar daar is nie water nie. As daar net ’n beter platform is wat ons kan inlig, want ’n mens moet jou malle verstand af soek op ’n Facebook-blad.”

Louis Pienaar, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, sê die watertoevoer na die geaffekteerde gebiede is Sondag (16 Julie) volledig herstel. Hy voeg by die munisipaliteit prioritiseer te alle tye die herstel van watertoevoer en bedank die publiek vir hul geduld oor die afgelope naweek.

“’n Wateraansluiting met ’n deursnit van 40 mm is oor naweek in die Groenheuwel-gebied beskadig, en daarom moes ’n gedeelte van die gebied se toevoer tydelik toegedraai word om herstelwerk te kon doen. Met die aanskakeling van die water is daar egter probleme ondervind met lug in die stelsel, wat veroorsaak het dat inwoners in sommige gedeeltes waterdruk- en toevoerprobleme ondervind het.

“In Bergrivier Boulevard het ’n hoofwaterpyp gebars wat dieselfde dag nog herstel is. Hierdie barspyp het die watertoevoer na Noorder-Paarl belemmer. Die water moes deur ander pyproetes herlei word, wat ’n laer druk in die stelsel veroorsaak het. Die plasing van terugvulmateriaal is nog nie voltooi nie, maar sodra dit afgehandel is, sal die pyplyn onder volle druk geplaas word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article