Ons woon in Kronkellaan in Noorder-Paarl. Ons het so twee jaar gelede uit Bloemfontein na die Paarl verhuis. Dit is vir ons fantasties hoe dienslewering hier met die (gebrek aan) dienslewering in Bloemfontein vergelyk. Ek glo nie ek hoef oor die verval in Bloemfontein te skryf nie, dit kry oorgenoeg nuusdekking.
Daarom is die voortdurende onderbrekings in watervoorsiening wat ons sowat die afgelope twee weke beleef vir ons uit pas.
Gewoonlik word ons gou op ons selfoongroepie ingelig waar en wat die probleem was en dat daaraan gewerk word. Die probleem word dan ook gou opgelos. Daar was byvoorbeeld drie opeenvolgende probleme in Langstraat, en een in Hoofstraat. Vanoggend is die water wéér af, en die naaste wat ons pas kon kry was dat die water in “Michellestraat” afstroom, met geen werkers in sig nie. (Ons kry nie ’n Michellestraat op Google Maps nie.)
Ek het begin wonder of die probleem nie is dat die waterpype hul lewensduur begin bereik het nie. ’n Mens wil dit amper nie indink nie weens die komplikasies daarvan. Maar dis moeilik om aan ’n ander rede te dink.




