Die trotse eerste rugbyspan van Boland Landbouskool wat Paul Roos Gimnasium die afgelope naweek met 28-12 verslaan het.Foto:

Credit: SYSTEM

Boland Landbouskool het die afgelope naweek behoorlik verras toe hy die rugbyreus Paul Roos Gimnasium op die plaas in Agter-Paarl oortuigend geklop het.

Terwyl alle oë op vanjaar se Interskole-kragmeting in Faurestraat gerig was, het die landbouskool gewys hy is ’n gedugte span op die rugbyveld toe hy Paul Roos Gimnasium met 28-12 verslaan het.

Ná ’n betreklik gelykop eerste helfte was dit die landbouers wat die meeste druk uitgeoefen en die manne van Stellenbosch deur middel van taktiese skoppe op die agtervoet gehou het.

Dit was die eerste keer sedert 2016 dat die landbouskool die besoekers met hangskouers huis toe gestuur het.

Hierdie indrukwekkende vertoning van die Boland Landbouskool het hom na die vyfde posisie op die o.19A-skolerugby-ranglys in Suid-Afrika opgeskuif.

Dit baan ook die weg vir ’n titaniese kragmeting wat verwag kan word wanneer Landbou sy Riversdalse eweknie, Oakdale, op 20 Augustus in hul Interskole-wedstryd in Riversdal pak. Oakdale het vanjaar ook ’n baie sterk span en het die afgelope naweek Grey Kollege (van Bloemfontein), wat bo-aan die skole-rugbyranglys is, byna geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article