’n SweepSouth-verslag toon dat huiswerkers in hierdie uitmergelende ekonomiese omstandighede aan die kortste ent trek. Foto ter illustrasie

Credit: SYSTEM

Kragonderbrekings, inflasie, lewenskostes en die breinkwyn lewer ’n oneweredige impak op huiswerkers – van wie 94% vroue is. In Suid-Afrika het die gemiddelde huiswerker tot vier afhanklikes en baie dien as die familie se enigste broodwinner en versorger.

Dit blyk uit die nuutste “SweepSouth 2023 Report on Domestic Worker Pay and Work Conditions”-data wat verlede week vrygestel is.

Die sesde jaarlikse verslag, gerig op meer as 5 500 huiswerkers, toon dat die gemiddelde huiswerker in Suid-Afrika 37 jaar oud is en R2 989 per maand verdien. Huiswerk is die enigste bron van inkomste as enkel broodwinner in haar familie. Hierdie inkomste word gebruik vir daaglikse uitgawes, kos (waarvan pryse in die afgelope jaar met 12% gestyg het), behuising, vervoer, elektrisiteit, lugtyd en selfoondata, skoolgeld sowel as ander noodsaaklike uitgawes.

Die gemiddelde huiswerker bestee ongeveer R694 meer as haar inkomste, is nie lid van ’n mediese plan nie, kan nie spaar nie en skuld ongeveer R3 599 aan onder meer winkels, vriende en mikroleners.

Finansiële aanwysers op die oog af:. 75% van huiswerkers verdien nie genoeg om te kan spaar nie.. Slegs 9% van huiswerkers het spaargeld. . 35% van huiswerkers het ’n skuldlas.

Met die toename van lewenskoste en inflasie is dit nie verbasend nie dat huiswerkers, indien moontlik, meer addisionele werk aanneem met die hoop om hul inkomste te verhoog en skuld te vermy.

“In oorstemming met vorige verslae, sien ons steeds ’n geweldige las op huiswerkers om hulself asook hul families te kan onderhou. Voortdurende ekonomiese uitdagings dra tot by en vererger druk op huiswerkers,” sê Luke Kannemeyer, besturende direkteur by SweepSouth.

Die verslag dui ook op massiewe werksverlies wat huiswerkers die afgelope jaar ervaar het. Die hoofrede word gekoppel aan werkgewers wat verhuis, met 59% van dié verhuisings na die buiteland. Dit verteenwoordig ’n 15%- toename teenoor 2022 in huiswerkers wat hul bron van inkomste as gevolg van breinkwyn verloor. Boonop was 68% van huiswerkers wat verlede jaar werkloos gelaat is, nie vir werkloosheids­versekering (UIF) geregistreer nie, en slegs 52% van dié wat wel geregistreer was, het suksesvolle aansoeke ingedien.

“Dit is ’n motivering vir die dringende oorweging van universele werkloosheids­voordele om te verseker dat huiswerkers beter dekking en makliker toegang tot versekering het,” voeg Kannemeyer by.

Beurtkrag het ook ’n beduidende negatiewe uitwerking op huiswerkers. Die verslag het vanjaar die eerste keer ook na die Suid-Afrikaanse kragkrisis gekyk en het bevind huiswerkers wat hul werk in die afgelope jaar verloor het, voel beurtkrag het ’n bydrae gelewer. Huidige kragonderbrekings het ook ’n negatiewe invloed op die veiligheid van huiswerkers.

Dit is ook geen verrassing nie dat werkloosheid die grootste uitwerking op die geestesgesondheid van Suid-Afrika se huiswerkers het.

Op ’n meer positiewe noot dui die peiling aan hoewel die situasie verskriklik uitdagend kan wees, is daar ’n opwaartse trajek in verdienstes vir huiswerkers wat van die SweepSouth-platform gebruik maak – in ooreenstemming met aanduidings in die 2022-verslag.

“Hoewel Suid-Afrika ’n minimumloon en arbeidswette gebruik om huiswerkers te beskerm, is dit steeds ’n werklikheid dat nie almal altyd daaraan voldoen nie. Sonder vernuwende maniere om die implementering van hierdie loon en wette te verbeter en te handhaaf, sal huiswerkers steeds nie veel voordeel daaruit kan trek nie,” sluit Kannemeyer af.. SweepSouth is Afrika se grootste tuisdiensteplatform. Gebruikers is aan meer as 40 000 tuisdiensverskaffers verbind, en kan binne sekondes ’n verskaffer op die SweepSouth-app of webwerf bespreek en hulle binne ’n uur by hul deur hê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article