Braam en Amoré van Niekerk met Angus.

Credit: SYSTEM

Braam en Amoré van Niekerk van die Paarl het verlede Saterdag (12 Augustus) sowat 1 300 km afgelê na Zeerust om die ses maande oue Angus aan te neem nadat hulle van sy tragiese storie gehoor het.

Angus, of te wel Memphis, soos hy by diere-organisasies bekendgestaan het, is vermoedelik deur ’n motor raakgery, waarna hy met twee gebreekte bene langs die pad gelos is voordat die plaaslike Cat Angel Refuge-dierewelsynsorganisasie in Zeerust hom gered het.

Volgens Amoré het sy ’n berig oor Angus se tragiese verhaal op Netwerk24 gelees en ook hoe ’n R140 000 anonieme skenking aan dié organisasie gedoen is.

Die storie het dadelik haar aandag getrek en haar hartsnare geroer.

“Ek lees nooit hartseer diere-stories nie, maar die storie het my aandag getrek. Ek het vir my man van die storie vertel en hom gevra of ons hom [Angus] kan aanneem,” het Amoré vertel.

Tot haar verbasing het haar man sy foon na haar gedraai om te wys dat hy dieselfde berig lees.

Die volgende dag het Amoré aan die werk gespring en dadelik die Cat Angel Refuge-organisasie gebel, waarna hulle Angus sowat twee maande later gaan haal het – ná sy operasie en nadat die ergste rehabilitasie verby was.

Die egpaar het die Saterdagaand by ’n gastehuis in Zeerust oorgeslaap, saam met hul nuwe woef aan hul sy. Die gastehuis het die geld wat hulle vir hul verblyf betaal het, aan die dierewelsynsorganisasie geskenk.

Amoré, Braam en Angus het Sondagaand by hul huis in die Paarl aangekom en hul eie diere aan Angus voorgestel.

“Dit was love at first sight”, volgens Amoré, wat verduidelik het dat Angus en hul ander hond, Wyatt, ’n Hongaarse vizla, dadelik maatjies geraak het.

Die Van Niekerk-gesin het ook ’n aangenome wyfie-kat, Olive, maar dié twee is nog nie direk aan mekaar voorgestel nie en aanskou liewer mekaar deur ’n skuifdeur.


Vandag noem die Van Niekerk’s hul aangenome hond Angus, nadat hulle sy naam verander het.

“Memphis het net nie vir my gewerk nie . . . ons is baie Afrikaans en Memphis is te Engels,” het Amoré gespot.

Sy het vertel haar man het ook tot dié naamsverandering ingestem omdat hy dan vir mense kan sê “sy hond is na Angus Young, die hoof­kitaarspeler van AC/DC, vernoem”.

Vandag is Angus dolgelukkig by sy nuwe tuiste en hy sterk goed aan. Volgens Amoré moet hy vir nog ’n maand “rustig” gesond word weens sy agterbene wat nog herstel, waarna hy die Van Niekerk’s se plaaslike veearts sal besoek.

Die gesin woon reeds drie jaar in die Paarl, waar Amoré as ’n dieetkundige werk, en Braam as ’n entomoloog (insekkundige).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article