Verskeie besorgde inwoners het Paarl Post verlede week gekontak oor die bome by De Poort in Suider-Paarl, wat afgekap word uit vrees dat die terrein nou vir behuising ontwikkel gaan word.
Die Drakenstein-munisipaliteit voer egter aan ’n hele paar bome het vanjaar in De Poort weens die stormagtige en gure weer omgeval.
Die munisipaliteit sê dié dennebome is meer as 100 jaar oud en is uitheemse bome. By nadere ondersoek het hulle bevind hoewel die bome op die oog af gesond gelyk het, baie se stamme verrot was.
As sodanig het die parke-afdeling die res van die bome ontleed. Die uitkoms van hierdie assessering was dat byna 90% van die bome nie gesond was nie en dus ’n veiligheidsrisiko vir die publiek en die omgewing inhou.
Die munisipaliteit het ook vooraf met verskeie instansies in hierdie verband gekonsulteer, insluitend die Wes-Kaapse Erfenisraad, die munisipaliteit se afdeling vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, asook die munisipaliteit se departement korporatiewe dienste.
Maar steeds bly die kwessie van De Poort se toekoms ter sprake.
Die munisipaliteit het vroeër vanjaar aan die Paarl Post gesê die suksesvolle aansoeker, The Kinesis Group (Edms) Bpk, is op 29 Maart deur die munisipale raad goedgekeur en hiermee laat die munisipaliteit amptelik toe dat ontwikkeling by die Paarl se witolifant, De Poort, kan plaasvind.
Jare van onsekerheid en gevegte tussen die munisipaliteit en vorige huurders blyk ’n einde te bereik het en De Poort word voorts aan ’n Stellenbosse ontwikkelingsmaatskappy verhuur vir ’n bedrag van slegs R31 587,50 per maand, BTW uitgesluit.
Die munisipaliteit het gesê die huur van De Poort is onderworpe aan sekere kriteria wat behels die ontwikkeling van De Poort tot ’n geïntegreerde en multifunksionele ruimte, wat hoofsaaklik die toerismebedryf in die Paarl- en Drakenstein-gebied sal dien.
Dit sluit ’n residensiële komponent in, wat die organiese hernuwing van bestaande gebruike/bedrywighede/soorte sakeondernemings binne die breër gebied moontlik sal maak, wat hierdie visie na verwagting sal aanvul en aanmoedig. Die residensiële komponent kan ook woonstelle insluit.
Die perseel word aanvanklik teen R379 050 per jaar verhuur, waarna dit hersien sal word in ooreenstemming met die spesifikasies van die ontwikkeling.
De Poort is geleë op ’n uitstekende eiendom van byna 4 000 m² in Suider-Paarl.
Sedert sy ontstaan destyds as historiese dorpie, ’n interaktiewe erfenisfasiliteit en ’n wa-museum, was alle pogings vrugteloos om De Poort werklik van die grond af te kry weens ’n gebrek aan geld en samewerking tussen die De Poort-direksie en die Drakenstein-munisipaliteit.
Paarl Post het die munisipaliteit gevra vir kontakbesonderhede van The Kinesis Group (Edms) Bpk. (dit is nie dieselfde as Kinesis Holdings, wat niks met die ontwikkeling te doen het nie), om meer besonderhede te verkry oor die planne vorentoe vir De Poort, maar Seraj Johaar van die munisipaliteit het geweier om hierdie besonderhede te verskaf en die rede hiervoor aangevoer dat hy dit “weens die Popi-wetgewing” (oor die beskerming van persoonlike inligting) nie mag verskaf nie.
Paarl Post kon ook nie The Kinesis Group (Pty) Ltd se besonderhede deur ander soekmetodes opspoor nie.





