Sean Sampson, Nichole Fortuin en Dillon Ambraal vertrek binnekort na Frankryk om hul wynkennis te verbreed.Foto:


Drie Nederburg-kelder-werkers gaan ontbytgraan vir baguettes en waterblommetjiebredie vir bees-bourguignon verruil wanneer hulle op ’n jaarlikse, internasionale vaardigheidsbou-program na Boergondië, Frankryk, vertrek.

Die kelderwerkers is Dillon Ambraal, wat op die Nederburg-plaas grootgeword en 12 jaar gelede by die wynmakery aangesluit het; Sean Sampson, wat die afgelope sewe jaar by die wynmakery werk; en Nichole Fortuin, wat in 2020 lid van die kelderspan geword het. Nie een van die drie het al ’n voet uit die land gesit nie.

Altesaam 10 wynkelderwerkers is gekies om die program by te woon en Nederburg is die enigste wynmakery wat meer as een kelderwerker op die program het.

Die drie vertrek vroeg in September om elkeen vyf weke by ’n ander Boergondiese wynmakery te werk. Hul reis- en leergeleentheid spruit uit ’n ooreenkoms tussen die Wes-Kaapse departement van landbou en sy ekwivalent in Bourgogne-France Comté.

Die samewerking tussen die twee streke is in 2002 bedink om professionele en persoonlike vaardigheidsontwikkeling onder minderbevoorregte landbouwerkers te versnel. Dit is sedertdien elke jaar aan die gang, behalwe tydens die pandemie.

Sentraal tot die ooreenkoms is ’n sterk bilaterale verhouding tussen die Elsenburg-landbou-opleidingsinstituut in Stellenbosch en Boergondië se Sentrum vir professionele opleiding en landboubevordering (CFPPA).

Die Nederburg-trio gaan hul vaardighede in wynmaak sowel as wingerdbou verskerp. Die klem sal wees op keldertegniek en tegnologie, wynchemie, die invloed van eikehout op wyn en die versorging van eikehout-vate. Hulle sal ook tyd by die CFPPA geleë in Beaune, reg in die middel van Boergondië, deurbring.

Samuel Viljoen, keldermeester van Nederburg, sê: “Dit is ’n geweldige eer vir Dillon, Sean en Nichole, wat in die hartjie van die klassieke wynmaak-wêreld gedompel sal word – die ontmoetingspunt vir van die grootste talente in wynmaak oral. Om drie van die tien kandidate van Nederburg te laat kies, is ook ’n groot voorreg vir ons wynkelder. Hulle sal met hul terugkeer soveel hê om met ons te deel.

“Ek kan my eerste werksreis oorsee onthou. Om in ’n ander kelder te werk, blootgestel te word aan verskillende protokolle en tegnieke en om by mense van ’n ander kultuur betrokke te raak, was aanvanklik skrikwekkend, maar toe so opwindend en stimulerend. Die voordele is onberekenbaar – van die uitbouing van jou kennis, selfvertroue en dissipline tot die verbreding van jou gedagtes. Ons is absoluut opgewonde vir hulle en baie dankbaar teenoor die organiseerders.”

. Three cellar workers of Nederburg Wine Estate are among a group of ten who will be travelling to Burgundy, France, on an annual, international skills-building programme.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article