Nie alle mense is bevoorreg om merendeels aangename herinneringe te hê van hul lewenspad nie. Geleerdes het verskeie teorieë daaroor, maar ek dink die lewe is van meet af aan onregverdig teenoor sommige. So by so het niemand van ons ’n sê in ons hiér-wees nie. Ontelbares se eerste skree in hierdie wêreld weerklink in ’n omgewing wat ontdoen is van enige liefde en verantwoordelike opvoeding en duisende wrakke word dus die wêreld in gestuur. Maar daar is die wat, Hemel alleen weet hoe, hulself loswoel en seëvierend bo uitkom.

Die teendeel is ook waar: Baie met ’n gunstige wegspring in bevoorregte omstandighede, kom tot niks. Dis vir my onverstaanbaar en ontstellend omdat ek sulkes ken. Hopzing sê: “Maa. We live by our choices.” Dis Bybels ook. Ons keuses bepaal ons lewenspad.

Hoekom ek die goed dink, terwyl ek Sondagaand my naweektassie uitpak weet ek nie. Dalk my empatiese aard en die onthou van ons lekker naweek- kuier in die Boesmanland.

So asof Middelkind my kop gelees het die oggend toe ek met ’n intense verlange na ons plaas wakker geword het, het hy vroeg-vroeg met spoed en min woorde, eie aan hom, ’n vinnige draai kom maak en aangekondig: “Ma, ek het met oom Boetie gepraat. Ons ry volgende naweek plaas toe. Ek sal die kar hier volmaak, ma maak op Calvinia vol.” Netso. En weg is hy. Ek kan my geluk nie glo nie, maar bid dadelik vir stadigrig ry. Dis ’n groot kar wat petrol vreet.

Ek maak dadelik ’n doen- en saamvatlysie. Die 475 km is ver, maar kort ook. Soveel mooi te sien en te praat. My stories van die 73 jaar dat ek al die pad ry, was dalk lekkerder herinneringe vir my as vir die toehoorders. As klein dogtertjie, saam met my ouers, eers die smal grondpaadjie en gevaarlike draaie al teen die Olifantsrivier langs gery en later die kronkelende teerpaadjie aan die oorkant. As student saam met ’n vriend en soms saam met my suster ook. Heelwat later saam met my broer en toe die ontelbare kere saam met Dries. Nou, met sy lekker bly in die hemel, ry ek soms saam met my kinders, maar meestal is dit net Hester en ek. Daar is darem nou ’n lieflike teerpad vir ons twee.

Natuurlik is my seunskind se fokus dat ons veilig en voor donker op die plaas kom. Die verantwoordelikheid neem hy ernstig op. Volgens my en Skoondogter-Deniesie se gevoel, is die spoed en draaie in die Resseberg – soos Piekenierskloofpas eens bekend was – nie sooo versoenbaar met mekaar nie en my lyftaal skree dit. En toe: “Ma, asseblief. Ek is definitief nie van plan om myself te verongeluk nie. Ek moet by die groot lorries verbykom. In die berg hou hulle ’n mens op en is gevaarlik voor jou.”

Enige vermoede van sy moontlike omruiling in die hospitaal is onmiddellik ’n nulliteit. Dis Dries se kind. Dieselfde motorbestuur. Dieselfde siening. Dieselfde sê. Ek weet die redes en sê dit en komplimenteer hom as ’n besonder knap bestuurder en wetsgehoorsame padgebruiker. Ek belowe om my bes te probeer om nie weer leeus te jag nie. Geen reaksie daarop nie en ons spoed verby Citrusdal. Vanaf die pad is geen teken van Juniemaand se verwoestende oorstromings nie. Net die lieflikheid van die sitrusboorde en hier en daar ’n glimp van die Olifantsrivier deur die geelgroen blare en aan die weste- helling pronk goudgeel wilde magrietjies.

Ons woerts verby Clanwilliamdam wat gedurende die depressie van 1933 deur wit mense gebou is. Geen masjinerie of dinamiet is gebruik vir die uitgrawings nie. Letterlik met pik en graaf gedoen. Dit was ’n werkskeppingsprojek vir die bankrot boere en werklose mans. Die pragtige kanaal aan die regterkant van die kronkelpad Klawer toe was daai tyd werkskepping vir bruin mense. Ook net hande-arbeid soos die dam s’n.

Die dambouers het in ’n kampong ver buite Clanwilliam gebly. My pa en sy broer was die eienaars van die eerste en enigste garage op die dorp. Hy het ’n De Soto gehad wat hy aan die dambouers verhuur het wanneer hulle iewers heen wou ry. Hyself moes dikwels met erg beseerdes of ernstig siekes Citrusdal toe jaag waar die naaste dokter was. Soms daarvandaan Kaapse dokters en hospitale toe.

Van Vanrhynsdorp tot verby Calvinia is ’n blommefees. Die twee negejarige Bolandse seuntjies kry daar ’n geografie-les: Die steil Vanrhynspas, my kinderdae se Bokveldsberg, ry jy net uit. Jy gaan nie weer af nie.

Skemeraand, met die plaashuis in sig, klim die tweetjies af om die laaste entjie te draf. Met ons stilhou, verklaar Deniesie kategories: “Ek ry nooit weer so ver nie. Volgende keer vlieg ek saam met Lourens hiernatoe.”

Aangename herinneringe. ’n Dankbaarheidsreis deur my kop. Dit sal ek altyd vooropstel en nooit toelaat dat my kop gaan staan by gedagtes van die nagdonkerte wat die ANC letterlik en figuurlik vir ons geskep het nie. Ek wens dit vir u ook.



,


You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article