Die Kaapse kobra nadat Eudanne Niemand van Boland Snake Removals 24/7 dit gevang en elders veilig vrygelaat het.Foto: Boland Snake Removals 24/7 Facebook


Dit was so hittete of ’n gesin, wat sowat ses kilometer buite Wellington by Malanstasie woon, het nóg ’n aand saam met ’n glibberige goudgeel Kaapse kobra deurgebring nadat hy homself in ’n kraak in hul vloer tuisgemaak het.

Eduanne Niemand van Boland Snake Removals 24/7 het verlede Donderdag (31 Augustus) omstreeks 06:00 ’n oproep ontvang van ’n benoude gesin wat ’n “blink” voorwerp in hul huis gesien het.

Nadat die gesin ’n foto aan Niemand gestuur het en hy die slang as ’n Kaapse kobra geïdentifiseer het, was dit omtrent ’n gewerskaf om dié bielie van ’n slang te vang.

Die slang het in ’n groot kraak in ’n kamer van die huis ingeseil en hom tussen die sementvloer en die grond tuisgemaak.

Niemand en die inwoners het toe koppe bymekaargesit, waarna hy ’n nabye houtmuur afgebreek het om die grond en bourommel onder die sementvloer uit te krap.

Die glibberige gedierte is ná slegs 40 minute onder die huis se vloer gevang, en die huismense wat Niemand gebel het, kon weer verlig asemhaal.

“Wel, ek is baie trots op die gesin wat so dapper was om drie nagte met ’n slang in die huis te slaap en alles reg hanteer het deur stil te bly, honde en kinders weg te hou en die slang vir my mooi staan en dophou het,” het Niemand in ’n Facebook-plasing geskryf.

Hy het dit ook gratis gedoen, en verduidelik dat hy gewoonlik ’n fooi vra.

Niemand se sosiale-media-plasing het oor die 300 reaksies ontvang, met Bolanders wat sy heldedaad geprys het.

Volgens hierdie Boland-slangvanger is vanjaar se slange vroeër wakker en aan die jag as voorheen, met reeds ’n paar giftige slange wat hy al gevang het.

Niemand het verduidelik dat hierdie verskynsel, volgens hom, beteken ’n droogte is op pad.

Gewaar jy dalk ’n glibberige slang op jou werf? Hierdie is die stappe wat jy kan volg:
. Neem ’n foto van die slang en stuur dit aan ’n slangvanger.. Vra jou huismense om nie om die slang saam te drom nie.. Hou ’n ogie op die slang terwyl jy op die slangvanger wag.. Moenie aan die slang probeer raak of dit self probeer vang of verwyder nie.. Maak seker jou erf is skoon en higiënies omdat vuil omstandighede muise en rotte lok, wat beteken slange sal binnekort hul verskyning maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article