Vir die volgende paar Vrydae trek leerders van Hugenote Hoërskool in Wellington nie net groen en goud vir #BokFridays aan om die Springbokke te ondersteun nie, maar ook as deel van die #Spring(BUCKS) for Ben-veldtog. Daardeur word geld ingesamel vir ’n gr. 8-leerder, Ben Klopper, wat aan sistiese fibrose ly. Dit is vir Ben weens dié lewensbedreigende toestand ’n stryd net om asem haal en sy lyf sukkel om gemaklik kos te verteer.
Alle geld wat danksy #Spring(BUCKS) for Ben ingesamel word, word aan ’n groter fonds geskenk, wat onlangs gestig is sodat Ben lewegewende medisyne kan kry. Die medisyne, Trixicar, kos minstens R400 000 per jaar, en is tans nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie.
Leerders word aangemoedig om elke #BokFriday R5 (of meer) saam te bring wanneer hulle in hul Bokkleure skool toe kom.
“#Spring(BUCKS) is ons skool se manier om te wys dat ons net die beste vir Ben toewens,” verduidelik Nicolene Human, ’n onderwyser wat die veldtog by Hugenote Hoërskool help koördineer.
Sy sê die Hugenote-ondersteuningsbond (HOB) vir oudleerders en ondersteuners verkoop tans ook lootjies as deel van ’n verdere insamelingspoging.
Hierdie inisiatiewe volg nadat Ben se ouers, Bennie en Nicolene Klopper, einde Augustus ’n BackaBuddy-geldinsamelingsblad begin het.
Trixicar word net in Argentinië vervaardig, en die gebruik daarvan word slegs gedeeltelik deur een Suid-Afrikaanse siekefonds gedek, afhangend van die voorgeskrewe dosis. Tans kan dit Suid-Afrikaners wat aan sistiese fibrose ly, tussen R400 000 en R800 000 per jaar kos, afhangend van die wisselkoers en hoe hul behandelingsplanne lyk.
Oor Trixicar sê Bennie: “Dis ’n soort ‘wondermiddel’ en sal Ben help om ’n byna normale lewe te geniet. Dit sal help keer dat sy longfunksie bly agteruitgaan en sy organe verder verswak, wat ’n groot probleem is by mense wat sistiese fibrose het. Dit sal ook sy liggaam help om kos beter te verteer en voedingstowwe op te neem sodat hy beter kan groei.”
Trixicar is die generiese weergawe van die selfs duurder Trikafta, en werk net so goed. Trikafta is egter ook weens lisensievoorwaardes nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Dis selfs meer onbekostigbaar vir die oorgrote meerderheid sistiese fibrose-lyers, want dit kan tot R6 miljoen per jaar kos.
Sistiese fibrose is ’n skaars genetiese siekte. Volgens die register van die Suid-Afrikaanse Sistiesefibrose-vereniging ly 523 mense in die land daaraan.
Die opbou van dik slym in die longe en lugweë is van die siekte se tipiese simptome. Dit voel asof ’n mens heeldag deur ’n strooitjie asem haal.
Tans moet Ben tussen twee en drie keer per dag ’n nebuliseerder en ’n sodiumchloried-oplossing gebruik om hom beter te help asem haal, en ’n middel gebruik wat die slym help opbreek. Dit is die roetine waarmee hy ’n gemiddelde skooldag aanpak.
Fisioterapie is al vandat hy ’n klein babatjie was ook ’n gereelde aspek van sy lewe. Ten spyte van al hierdie behandelings moet hy steeds dikwels noodbehandeling in die hospitaal kry sodat hy weer makliker kan asem haal.
‘n Minder bekende impak van sistiese fibrose is dat die liggaam nie genoeg ensieme afskei om kos goed te kan verteer nie. Dus neem die liggaam nie genoeg voedingstowwe op nie en groei lyers dikwels swak en het hulle min energie.
“My seun drink tot 600 pille per maand net sodat hy kos beter kan verteer,” vertel Bennie.
Ten spyte van die impak op sy liggaam probeer Ben so normaal moontlik lewe. Op goeie dae hou hy daarvan om gimnasium toe te gaan om gewigte op te tel, en hy is ’n entrepreneur in sy hart.
Mediese prosedures is reeds van geboorte af deel van Ben se lewe. Hy het sy eerste drie maande in die hospitaal deurgebring omdat hy van geboorte af akute pyn ervaar het. Uiteindelik is hy as pap babatjie geopereer toe dokters besef het hy het ’n seldsame vorm van dermobstruksie, genaamd meconium ileus.
Hy was sowat drie maande oud toe sy ouers die nuus kry dat hy sistiese fibrose het en dat hy sonder behandeling binne ’n jaar sou kon sterf.
Sedertdien het verskillende vorms van behandeling deel van die Kloppers se daaglikse werklikheid geword.
“Ons wens al van dag een af net vir ’n gesonde kind,” sê Bennie.. Mense wat Ben wil help, kan die “Ben Klopper Lifesaving Drug”-blad op BackaBuddy of https://www.backabuddy.co.za/champion/project/ben-klopper-5683801681116156774 besoek, of Bennie Klopper by 082 417 7976 of bnklopper@gmail.com kontak.




