Die Paarl-polisie doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te wees en ekstra voorsorg te tref met die stoor van persoonlike besittings te midde van ’n toename in huis- en sakediefstalle wat vir Augustus aangemeld is.
’n Aantal huisdiefstalle is in Lemoenkloof, Groenvlei en die Noorder-Paarl-gebiede in strate soos Bethel, Retief, Plein, Berlyn, Uitspanning, Boegoe en Keurtjiestraat aangemeld. Die meeste van die voorvalle het tussen 09:00 en 13:00 op Donderdae plaasgevind, sê kapt. Louise du Plessis, ’n polisiewoordvoerder.
Huisdiefstalle het ook in dié maand in die Paarlse middedorp, Denneburg- en Klein Parys-gebiede in strate soos Moolman, Dorp, Fabriek en Du Toit hoofsaaklik tussen 06:00 en 14:00 plaasgevind.
Volgens Du Plessis was daar in Augustus ’n aansienlike toename in die diefstal van fietse.
“Daar was gevalle waar motorhuise oopgedwing is om toegang tot die perseel te verkry. In ander voorvalle is die fietse buite gelos sonder dat dit aan ’n ketting vasgemaak is.
“Ons doen ’n beroep op die publiek om seker te maak dat hul fietse te alle tye beveilig is, selfs al is dit in motorhuise toegesluit.”
Du Plessis sê heelwat van die huishoudings in die Paarl se landelike gebiede soos Hawequa Bos, Klein Bosch, Lustigan en Simondium was ook slagoffers van rooftogte.
Sakeondernemings in die gebiede van Vryguns, Sonstraal en Dal Josaphat het ook volgens Du Plessis in Augustus onder roof gebuk gegaan.
Sy sê vier verdagtes is in Augustus vir diefstal in hegtenis geneem nadat ’n aantal stappers se voertuie in die Du Toitskloof-berggebied e geteiken is.





