Ná ’n uitstekende rugbyseisoen, wat ook vir die Hoër Landbouskool Boland seges teen die Hoër Jongenskool Paarl en Oakdale beteken het, het die Bolanders hul seisoen die afgelope naweek goed afgesluit toe hulle o.17- en o.15-spanne die eerste Kaapse skole-7’s-rugbytoernooi, wat in Wellington by die Hugenote Hoërskool gehou is, gewen het.
Die o.17’s het hard gewerk in die eindstryd om Paarl Gimnasium met 19-14 te klop en sodoende die toernooi onoorwonne af te sluit.
Boland Landbou het in die groepfase geseëvier ná gemaklike seges oor Forward Foundation (38-0), die Hoërskool Durbanville (36-7) en Augsburg Landbougimnasium (53-0). Hierna het hulle die gasheer, Hugenote, met 26-17 geklop.
In die kwarteindronde het die span van die Agter-Paarl met Hoërskool Bellville (31-7) klaargespeel, voordat sy paaie in die halfeindronde weer met dié van HS Durbanville gekruis het. Hier het Boland Landbou met ’n sege van 39-0 behoorlik sy tande gewys.
In die o.15-afdeling van die toernooi het Boland Landbou die beker-kompetisie gewen nadat hy Paul Roos in die eindstryd 24-19 verslaan het.





