Die polisie in die Paarl ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat drie hoërskoolleerders glo ’n inwoner in die middedorp met ’n skêr aangeval en gesteek het.
Die beweerde voorval het Donderdag (7 September) omstreeks 13:45 plaasgevind.
Die inwoner het blykbaar die leerders, wat buite in die straat gestaan het, gekonfronteer, sê kapt. Louise du Plessis, ’n polisiewoordvoerder.
Volgens Du Plessis het ’n onderonsie ontstaan toe die leerlinge glo op die inwoner begin vloek het.
Een van die leerders het volgens omstanders ’n skêr uitgepluk en die inwoner daarmee gesteek.
Die polisie kon nie die ouderdom van die leerders, of waar hulle skoolgaan, bevestig nie.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het ook by navraag aan Paarl Post laat blyk hy is nie bewus van enige van sy skole in die Paarl waarvan hul leerders by die beweerde voorval betrokke was nie.





