Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit.Foto: Gallo Images


Die Drakenstein-munisipaliteit het ’n maand nadat bewerings van korrupsie teen sy eerste burger deur opposisiepartye aan die lig gebring is, onafhanklike ondersoekers aangestel om dié aantygings te ondersoek.

Die ondersoek spruit uit aantygings deur die GOOD-party dat Conrad Poole, die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, en sy burgemeesterskomitee, by onregmatige transaksies betrek word.

Die party bestempel dit as ’n “betaal-vir-werk-skema” en kon nie by navraag enige burgemeesterskomitee­lede wat by die bewerings betrek word, identifiseer nie.

Op verlede maand se raadsvergadering het die vonke behoorlik gespat toe opposisie-partye die vergadering ontwrig en geëis het dat Poole vir dié bewerings moet pa staan.

Koos le Roux, die raad se Speaker, het by navraag aan Paarl Post gesê die bewerings is aanvanklik op 16 Augustus reeds onder sy kantoor se aandag gebring.

“ ’n Regsfirma is Vrydag (15 September) oor die ondersoek ingelig. Die aanstelling van die onafhanklike ondersoekers spruit uit my konsultasie om te kon bepaal of daar redelike vermoede is dat die munisipaliteit se gedragskode vir raadslede oortree is,” sê Le Roux.

Hy sê die ondersoekers het 30 dae om die bewerings na te gaan, waarna ’n volledige verslag aan die raad voorgelê sal word.

Die verwagting is dat Poole en enige ander amptenare wat by die ondersoek se bevindinge betrek sou word, ’n geleentheid gegun sal word om hul saak op ’n sitting aan die raad te stel.

Volgens Le Roux is daar nie enige beleid wat vereis dat Poole uit sy amp verwyder moet word terwyl die ondersoek aan die gang is nie.

Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur en ’n lid van die DA in die provinsie, het hom sterk uitgespreek oor die bewerings en meen dis niks anders as ’n politieke foefie deur die GOOD- party in die munisipaliteit nie.

Simmers het aan Paarl Post gesê “die DA glo aan die skeiding van party en regering”.

“Dit is ’n aangeleentheid van die Drakenstein-raad, so die DA in die Wes-Kaap sal dus wag op die afhandeling van hul proses en die raad se goedgekeurde verslag met aanbevelings wat daaruit sal kom.

“Ons versoek is dat die integriteit van die prosesse nie verwater moet word deur plaaslike opposisiepartye wat dit wil politiseer nie.”

Keagen Gertse, ’n GOOD-raadslid in die munisipaliteit, het aan Paarl Post gesê sy party sal toesien dat Poole aan die pen ry indien die bewerings waar is.

“GOOD glo aan die beginsels van deursigtigheid en skoon bestuur.

“Waar daar ’n rokie van wanbestuur is, sal ons party die gemeenskap daaroor inlig. Vir Simmers lyk dit dalk soos politiek, maar vir ons is dit die beginsel wat tel – iets wat die DA opsy sal plaas om een persoon te beskerm ten koste van Suid-Afrikaners wat alreeds swaar trek weens korrupsie.”

Gertse sê GOOD geniet ook die steun van ander opposisiepartye in die raad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article