Dit is seker nou veilig om te sê dat die Covid-pandemie nou amptelik verby is en die lewe kan voortgaan soos normaal.
’n Bewys hiervan is sportgebeurtenisse, musiekkonserte en feeste wat nou weer oral aan die gang is.
Maar as ’n kamstige stad (waarmee die munisipaliteit hier spog), wat gaan in ons vallei aan?
Ons sit in die hart van die wynlande en die een grootste gebeurtenis elke jaar is Paarl Interskole. Verder is daar hier en daar ’n kleinerige musiekkonsert – maar verder geen Wynland-fees soos wat ’n mens sou verwag van so ’n groot streek soos ons sin nie.
Waar is die destydse Wingerdfees wat in Faurestraat en Victoria Park gehou is? En dan ook die heerlike Nouveau-fees van destyds op Paarlberg?
Ons as Paarliete is baie lief vir ons dorp en streek, maar verder as dit is daar nie eintlik wilskrag in die vallei om broodnodige toeriste aan moedig nie.
Ons bly maar ver agter aan die speen suig as dit by kom by toerisme, wat ’n skreiende skande is.




