In reaksie op C. le Roux se brief in [verlede week] se koerant, moet ons ’n groter vraag vra: is dit vir ’n toeris die moeite werd om Paarl toe te kom? En die antwoord is: Nee.
Nie as ’n mens net kyk na die toestand van Victoriapark met sy gevandaliseerde fontein nie (die een voor die hof werk ook al jare nie); en dit is reg oorkant die biblioteek se gebou waar toeriste deesdae vir inligting moet aanklop. Watse beeld gee dit van die dorp?
En wat van die ou Kersfeesliggies wat al van voor 2010 op die sirkel voor die Vaalgebou is – dit werk jare nie meer nie en is seer op die oog.
Daar is baie voorbeelde wat ’n mens kan noem.
Kan daar nie net bietjie geld bestee word om dinge reg te maak en nuwe plante te plant nie?
Die munisipaliteit kan vir seker nie meer die verskoning gebruik dat hy nie geld het nie – in die nuutste verslag oor die geldsake einde Augustus wys dit dan dat daar meer as R570 miljoen in die bank is?
Ek dink die stadsvaders moet weer die gebreekte-ruit-teorie gaan lees, want geen fees gaan tans in ons dorp met sy gebreekte vensters werk nie.
Groete,




