’n Springbok-doodskis wat deur ’n Paarlse begrafnisonderneming op sosiale media bemark is, het die land lekker aan die gons – met dié bemarking wat meer as een miljoen keer wêreldwyd gedeel is.
Dít volgens Collin Hopley, trompetspeler van die Willy’s & Gallico Funeral Services in die Paarl.
Volgens hom is die kis in Durban vervaardig en deur hierdie Paarlse begrafnisdiens aangeskaf nadat een van die eienaars, Wilfred Heswick, besluit het om ’n doodskis te brand, het Hopley verduidelik.
Volgens Hopley het Heswick met dié idee vorendag gekom en dit voorgelê aan die onderneming in Durban wat doodskiste vervaardig.
Toe dit in die Paarl aankom nadat die begrafnisdiens dit gekoop het, het Willy’s & Gallico Funeral Services dit op sy Facebook-blad gedeel, waar dit dadelik groot opslae gemaak het.
Na ’n ruk het die begrafnisdiens egter besluit om die plasing te verwyder weens “negatiewe kommentaar” wat die plasing gelok het.
“Daar was negatiewe opmerkings met mense wat gesê het die kis is ’n simbool om die Bokke [Springbok-rugbyspan] te begrawe,” volgens Hopley.
Dit was egter glad nie die geval nie, met die begrafnisdiens wat die teenoorgestelde in gedagte gehad het en die sukses en kameraderie van die Springbokke wou vier.
Nietemin is die plasing, voordat dit verwyder is, op ’n Facebook-rugbyblad gedeel, waarna dit toe “viral gegaan het”, het Hopley gesê.
Volgens hom is dit die eerste keer dat Willy’s & Gallico Funeral Services sulke opslae op sosiale media, asook in die Suid-Afrikaanse nasionale media maak.
Hopley het bevestig dat die doodskis reeds deur ’n familie, wie se oorledene ’n Bok-ondersteuner was, gekoop is, en dat dié afgestorwene Sondag (1 Oktober) in groen en goud ter ruste gelê sal word.





