’n Jonger George Ballot (77) soos gesien op die televisie.Foto: Argief

Credit: SYSTEM

George Ballot (77) alombekend as “Skollie” wat in die destydse TV-drama Vyfster asook die rolprent Vyfster: Die Slot gespeel het, is die afgelope Maandag (2 Oktober) in sy huis in Riebeeck-Kasteel oorlede.

Ballot, wat een van Suid-Afrika se gunstelinggevangenes op televisie was, het sy laaste asem uitgeblaas en is deur die Riebeeck-Kasteel-polisie in sy bed gevind met sy selfoon in sy hand rustend op sy bors.

Volgens Louisa Gerryts, Ballot se buurvrou, het sy aangevoel iets is nie pluis nie nadat sy haar buurman se “karretjie” in die oprit sien staan het en hy nie haar selfoonboodskappe beantwoord het nie.

Gerryts het telefonies aan die Paarl Post verduidelik dat sy dadelik die polisie ontbied het en hulle toestemming gegee het om sy huis te betree, waarna hulle op Ballot se liggaam in sy bed afgekom het.

’n Ambulans is ontbied, wat die oorskot weggeneem het.

Gerryts het verduidelik dié twee het elke dag op WhatsApp kommunikeer en vir mekaar “emojis” gestuur om te laat weet dat hulle “oukei” is.

Dit is toé dat sy besluit het om by die huis te gaan aanklop.

Ballot en Gerryts was vir 20 jaar bure en het albei vir 24 jaar in Riebeeck-Kasteel gewoon.

“Ons het kontak gehou met emojis, en dit is oor daai rede dat ek agtergekom het iets is fout,” volgens Gerryts.

Die twee bure het baie vriende gedeel omdat beide voorheen vir die destydse SAUK gewerk het.

“Hy [Ballot] was ’n bietjie van ’n hardekop en effens van ’n kluisenaar,” het Gerryts tong in die kies gesê.

“Hy het altyd gepraat van die boek wat hy nog wil skryf en het baie belanggestel in die wetenskap. Hy het gereeld vir my nuus oor die een of ander komeet gestuur of iets wat in die buiteruim gebeur het,” het Gerryts nostalgies gesê.

“Hy het ’n hondjie gehad en dikwels op sy fiets deur die strate gery met die hondjie wat saam hardloop.”

Volgens Gerryts gaan sy haar buurman en vriend mis, maar is bly hy het vreedsaam “gegaan” in sy bed met sy “selfoontjie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article