Sewe verdagtes tussen die ouderdomme van 25 en 65 is Woensdagoggend deur die polisie en Wes-Kaapse provinsiale verkeer op die N1 naby die Hugenote-tonnel in hegtenis geneem nadat hulle met 310 kg se gesteelde kabels in hul voertuie betrap is.
Volgens sers. Wesley Twigg, ’n polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het wetstoepassers inligting ontvang oor verdagtes in ’n Volkswagen Golf en Toyota Verso wat glo besig was om oorhoofse kabels te steel.
Hy sê die twee voertuie was kort voor die Hugenote-tonnel gestop en deursoek.
Die sewe verdagtes sal Vrydag in die Paarl-landdroshof verskyn.
Paarl Post het ook verneem van ’n verdagte wat in ’n afsonderlike voorval op die Ladyloch-pad in Wellington in die nagtelike ure van Woensdag (30 September) deur sekuriteitsbeamptes betrap is toe hy glo koperkabels wat aan Telkom behoort probeer steel het.
Luidens ’n verklaring deur die sekuriteitsmaatskappy, Fidelity ADT, was hul beamptes besig om die landelike gebiede naby Ladyloch te patrolleer toe hulle op die twee verdagtes afgekom het.
Die wagte kon een verdagte vang. Sy makker het egter weggekom.
“Ons beamptes het die verdagte aan die polisie oorhandig. Telkom se ondersoekspan het kort daarna op die toneel opgedaag. Ons is bewus van die toename in kabeldiefstal en dat ’n probleem in daardie gebied is. Ons doen ’n beroep op inwoners om dadelik enige verdagte aktiwiteite te rapporteer,” lui die verklaring.
Volgens die maatskappy was dié Telkom-kabels geteiken slegs 24-uur nadat dit vervang is.





