Die plaaslike brandweer en reddingsdienste, wat onder die beheer van die Drakenstein-munisipaliteit is, word vanuit verskeie oorde gekritiseer dat hulle nie dienste lewer soos wat van hulle verwag word nie.
Van die klagtes sluit in dat dit ’n tendens geword het dat die brandweer se reaksietyd op ’n brand baie lank neem, noodsaaklike toerusting is foutief, ’n tekort aan suurstoftenks vir die brandweerbeamptes word ondervind en die telefoonlyne van die brandweerstasie is tydens beurtkrag buite werking.
Vrae rakende die gereedheid van die brandweer het op 10 September vanjaar ernstig onder die soeklig beland toe dit hulle sowat 50 minute geneem het om op ’n brand by die Val de Vie-landgoed te reageer. Volgens ’n betroubare bron was die brandweerbeamptes met hul aankoms op die toneel ook onvoorbereid, sonder kopligte, met foutiewe waterpype en sonder genoeg suurstoftenks vir hulself.
“Die probleem lê nie by die brandweermanne self nie, maar by die leierskap wat die brandweerstasie op sy tone moet hou. Hoe is dit nou nog moontlik dat die brandweerstasie nie ’n UPS (rugsteun)-stelsel het wat die krag by die stasie tydens beurtkrag kan aanhou nie? Mense kla dat hulle nie (telefonies) na die brandweer kan deurkom wanneer ’n brand tydens beurtkrag uitbreek nie, en dit is ontoelaatbaar en onaanvaarbaar, want die gemeenskap en mense se lewens ly daaronder.”
Ian Cameron, ’n teenmisdaad-aktivis van Action Society, sê hy kry die brandweerbeamptes – veral dié wat op grondvlak werk – jammer. Hy voeg by indien dit so is dat die beamptes wat op die grond met foutiewe toerusting moet werk of selfs met ’n gebrek aan toerusting na ’n toneel moet gaan, is dit eerder ’n geval van swak bestuur.
“Hier was verskeie brande in die afgelope paar maande in en om die Paarl. Mense is in verskeie brande dood en ek dink ons sal ernstig moet kyk hoe ons lewensverlies gaan begin minder maak. Verlede week was daar ’n brand in Mbekweni. Ek dink tussen 35 en 40 informele wonings het afgebrand. Dit was ’n totale inferno en ’n mens moet vra of alles reg was om dit (die brand) ordentlik te kon blus.
“Ek dink dit stel die brandweermanne en -vroue op die grond en ook die gemeenskap bloot.
“Die kritieke ding is steeds kommunikasie . . . Ek hoor kort-kort iemand kon nie op die telefoonlyn na die nooddienste deurkom nie – dit sluit in die brandweer en die polisiekantoor. Ek hoor ook kort-kort die radio’s tussen die brandweer en byvoorbeeld die buurtwagte werk nie. Ek dink hier is ’n groot kommunikasiegaping en die munisipaliteit weet daarvan, dus moet hulle daaraan aandag gee.”
Volgens Cameron was hy onlangs in ’n “positiewe” konsultasie met die munisipaliteit en weet hy vir ’n feit dat hulle aandag gee aan die uitdagings en klagtes wat deur die gemeenskap geopper is.
“Dit is belangrik om krediet te gee dat ’n ondersoek gedoen word en ek het dit so vir hulle gesê, maar daar moet definitief werk gedoen word. Ek kry die indruk daar is ’n gaping tussen wat op die grond gebeur en wat die brandweer se bestuur sê. Ek dink die ondersoek is begin ná die Val de Vie-storie – nie soseer oor Val de Vie nie, maar as gevolg van ’n tendens wat begin wys dat hier ’n probleem met brandbestryding is.
“Die kern vir my is – ek wil die munisipaliteit en die gemeenskap se strukture regtig aanmoedig om positief saam te werk. Ek kry die indruk dat daar geskille is wat nie uitgesorteer word nie, en ek dink daar moet om ’n tafel gesit word en die goed moet finaal uitgesorteer word. Op die einde van die dag verloor mense hul lewe as gevolg van kleinlikhede en ego’s.”
Dr. Johan Leibbrandt, Drakenstein se stadsbestuurder, het hierop gereageer.
“Die munisipaliteit is bewus van ’n brandvoorval wat op 10 September by ’n huis in die Val de Vie-landgoed in die Paarl plaasgevind het, en van klagtes wat geopper is. Ons beskou hierdie klagtes in ’n baie ernstige lig en het onmiddellik ná die voorval ’n onafhanklike ondersoek van stapel gestuur.
“Hangende die uitslag van dié ondersoek is die munisipaliteit nog nie by magte om kommentaar te lewer op enige bewerings nie,” het Leibbrandt gesê.
. The local fire brigade and rescue services, which are under the control of the Drakenstein Municipality, are being criticised for not providing services as expected of them.





