Ek verwys na die skrywe in Paarl Post van 28 September: “Paarl nie juis die moeite werd vir toeriste nie.” Ek stem 100% saam.
Wat doen die DA-munisipaliteit vir die Paarl? Ons “stad” waarna met uitnemendheid verwys word, is vuil.
Lady Greystraat word darem skoongemaak ná ’n dag se bedrywighede.
My woonhuis is in die middedorp van die Paarl, byna aangrensend aan die Bergrivier Boulevard. Ons beskou die Boulevard as ’n tweede hoofstraat van die Paarl waarlangs baie inwoners en besoekers reis.
Dit is ’n aaklige gesig om nou die kruisplek van Dorpstraat met Bergrivier Boulevard te aanskou. Hierdie aaklige prentjie is al twee weke gelede by die munisipaliteit aangemeld.
Steeds is nog niks daaraan gedoen nie. Die hoë gras en vuilgoed in die boulevard is ’n steen des aanstoots.
Die onderkant van Pleinstraat van Hoofstraat tot aangrensend aan die boulevard is ’n vuilgoedhoop. Agter die Paarl-staatshospitaal, waar besoekers pasiënte kan besoek, is dit vuil.
Ou beddens word agter die blyplek van die dokters en verpleegsters op die gras geplaas. Ons arme belastingbetalers se geld word so gemors.
Binne die terrein van die hospitaal self is dit net so onooglik vuil.
Dit is maar ’n klein deel van die middedorp wat ek waargeneem het. Aan talle strate word geen aandag gegee nie. Vuilgoedhouers wat die munisipaliteit daar geplaas het, word nie eens skoongemaak nie.
Dankie tog dat Franschhoek, my tuisdorp, onder die Stellenbosch-munisipaliteit val. Gesie van Deventer, ons mis jou. Stellenbosch, waar ek jare lank gewerk het, floreer en hul wins is die Paarl se verlies.
Is dit tyd om vir ’n ander party te stem sodat ’n verandering in die Paarl kan kom?
Hoe gaan ons toerisme na ons dorp bevorder as ons as inwoners ons koppe in skaamte moet laat sak?
Moet inwoners nou ook maar die hand in eie boesem steek en rondom hulle begin skoonmaak aangesien ons munisipaliteit van geen hulp is nie?
Hoekom moet ons belastingbetalers opdok vir dienste wat ons nie ontvang nie?
Dit is ’n plesier om na dorpe te kyk wat skoon is en ook nou weer aan Lottoland se kompetisie gaan deelneem. Sekerlik sal ons nooit die Paarl kan inskryf nie.
Ek haal aan uit die munisipaliteit se VARS-nuusbrief:
Drakenstein Municipality has become the first municipality in Africa and South Africa and the third in the world to implement specific, cutting-edge green electricity technology. It has adopted Schneider Electric’s green RM AirSeT air-powered ring main unit, which will reduce the municipality’s carbon footprint by using pure air instead of SF6 gas.”
Dit help nie om met sulke inisiatiewe te spog, maar jou dorp, wat ’n stad genoem word, is vuil en onooglik nie.
Paarl kan met min moeite en samewerking van die hele gemeenskap die voortou neem om weer besoekers te trek en te wys wat in ons as inwoners steek.
Sekerlik kan die sakesektor en so ook die inwoners van die Paarl van hulp wees met pogings om ons dorp weer die Paarl van ouds te maak.
Ons almal besef dat die haweloses ’n groot probleem in die dorp is. Pogings moet daadwerklik aangewend word om aandag aan hierdie probleem te gee.
Ons strate en voor geboue kan nie elke oggend soos ’n vuilgoedhoop lyk nie.
Komaan Paarl, ons moet saamstaan en iets daadwerkliks doen om ons dorp te red.
’n Aanhaling uit die VARS-nuusbrief: Do you want to work for a city of excellence? Waar is dit? Ons as inwoners sien dit nie.




