– Volg van bladsy 1.
Moodie was maar 17 jaar oud toe die Springbokke die wêreldbekertoernooi in 2019 gewen het.
Hy is ook in die Paarl gebore en het sy hoërskoolloopbaan by die Paarl Boys High begin en later aan die Hoërskool Boland Landbou voltooi.
Moodie het in Augustus verlede jaar sy internasionale buiging vir die Springbokke gemaak.
Karin Brand-Koch, Vincent se ma, het aan Paarl Post gesê hoewel hulle nie tans in Frankryk kan wees nie, is hul harte daar.
“Ek kyk nooit enige van die wedstryde saam met ander mense nie. Elke skrum voer ek saam met hom uit. Ek is so trots elke keer wanneer hy op die veld uitdraf omdat ek weet dis van vyfjarige ouderdom af reeds sy droom om vir die Springbokke te speel,” het sy laggend gesê.
“Hy was maar vyf jaar oud toe die Springbokke die eerste keer die wêreldbekertoernooi gewen het. Ek sal dit nooit vergeet nie. Hy en sy broer, Divan, het die eindstryd gekyk en sy woorde was ‘Ek gaan ook daar speel’. Dis nou sy tweede wêreldbekertoernooi.”
Sy sê dis belangrik vir ouers om hul kinders se drome ernstige op te neem en hulle daarin te ondersteun.
Volgens Brand-Koch is Vincent se vrou en seuntjie tans by hom in Frankryk.
“Ons gaan definitief Sondag se wedstryd kyk. Al speel hy nie, is ons steeds trotse Springbokondersteuners. Hy bel elke dag via video-oproep en daarvoor is ons so dankbaar.”
Koch was by die Hugenote Hoërskool in Wellington en het tussen 2006 en 2008 vir Boland Kavaliers uitgedraf.
Hy het in 2015 die eerste keer vir Suid-Afrika in ’n naelbyt-stryd teen die All Blacks in Johannesburg uitgedraf.
Malherbe se ma, Linda, het by navraag gesê die Bokke moet nie deur die Franse skare geïntimideer voel nie.
Malherbe is ook in die Paarl gebore en was op Paarl Boys High.
Dit is sy derde wêreldbeker-toernooi nadat hy in 2013 by die Springbokspan ingesluit is.
Paarl Post kon nie Pollard en Arendse se familie vir kommentaar bereik nie.
Dit is vanjaar ook Pollard se derde wêreldbekertoernooi nadat hy in 2014 die eerste keer vir die Springbokke uitgedraf het.
Pollard was in Paarl Gimnasium.
Arendse het sy hoërskoolloopbaan by die Paulus Joubert Secondary School in die Paarl voltooi.
Hy is in Julie verlede jaar by die Springbokspan ingesluit.





