Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sê hy is gereed vir die nasionale seniorsertifikaateksamen (NSS) wat einde Oktober begin. Foto: Gallo Images


Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê hoewel hier en daar nog aandag aan wiskunde en wetenskap by enkele skole geskenk sal moet word, is die meeste van sy Wes-Kaapse skole gereed vir die nasionale seniorsertifikaateksamen (NSS) wat op 30 Oktober begin.

Meer as 60 000 matrikulante in die Wes-Kaap sal vanjaar die NSS skryf.

“Vanuit my konsultasie met skole in die Kaap en Kaapse wynlande, klink dit asof die rekordeksamen (voorbereidende eksamen) heel goed afgeloop het. Ek dink die meeste skole is gereed vir die eindeksamen, maar ek is wel bevrees dat hier en daar nog ekstra klasse vir wiskunde en wetenskap aangebied sal moet word,” het Helmien Slabber, Fedsas se adjunk-bestuurder in die Wes-Kaap, aan Paarl Post gesê.

Slabber sê heelwat skole vind dit uitdagend om tyd en hulpbronne aan ekstra klasse vir sy matrieks af te staan.

“Nie alle skole is bevoorreg om byvoorbeeld soggens of middae ná skool ekstra tyd met hul matrikulante deur te bring nie. Daar is skole waar jy regtig sal sukkel om leerlinge ’n uur of wat vroeër by die skool te kry.

“Ons ervaar tans ’n agterstand weens die tempo waarteen leerlinge werk, en dit is grootliks die nalatenskap van die pandemie.

“Baie skole kon gelukkig hierdie agterstand vinnig genoeg identifiseer en daaraan aandag skenk.

“Hoewel vanjaar ’n beter akademiese jaar teenoor die afgelope drie jaar was, kon ’n mens steeds die uitwerking van die pandemie in sommige leerlinge se werkswyse identifiseer,” sê sy.

Sy het ’n beroep op skole gedoen om hierdie laaste paar dae te gebruik om ekstra sessies met hul matrikulante in te werk.

David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het aan Paarl Post gesê alle skole wat twee weke gelede deur die verwoestende oorstromings geraak is, is intussen weer oop.

“Die meeste van hierdie skole was gesluit weens paaie wat weggespoel het of versper was, of weens ’n gebrek aan water en elektrisiteit. Ons het nie enige skole wat strukturele skade ervaar het nie.

“In die Wes-Kaap is ons gereed vir hierdie eksamen en ons opvoeders is hard besig om die nodige bystand aan leerders te verleen.”

Die eerste matriekeksamen word op 30 Oktober geskryf wanneer leerders vir hul Engels-vraestel aansit.


. The Western Cape department of education is ready for the matric exams of 2023.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article