Tussen al die stormweer en oorstromings wat twee weke gelede in verskeie dele van die Wes-Kaap ervaar is, het ’n nuuskierige alpakka by die Alpaca Loom & Coffee Shop in die Paarl besluit sy sien nie meer kans vir haar mamma se baarmoeder nie en is in die middel van al die chaos gebore.
Deone, soos sy gedoop is, is Maandag 25 September in die wêreld verwelkom.
Van die enkele besoekers wat daardie dag braaf genoeg was om die alpakka-plaas in die gure weer te besoek, was gelukkig om toe die geboorte te kon aanskou.
Volgens Dietmar Keil, mede-eienaar by die plaas, het dit nie lank gevat vir Deone om op haar voete te staan nie.
“Dit vat hulle gewoonlik so omtrent ’n uur voor hulle begin loop. Hierdie is van daardie soort diere wat dadelik by sy omgewing moet probeer aanpas sodat hulle dit in die natuur kan maak. So, in die eerste uur ná hul geboorte sal jy sien daar is reeds verskeie probeerslae om op hul voete te staan. Hulle is baie bewus van hul omgewing, en weet dat hulle aan hul mammas kan drink om sterk te word.”
Keil sê Deone is dadelik daardie Maandag deur een van die besoekers “aangeneem”, by wie sy ook haar naam ontvang het.
“Die aanneming behels ’n fooi wat jy betaal en kan dan vir die alpakka ’n naam gee. Jy kry ’n aantal gratis besoeke per jaar, asook van hul wol wat hier afgeskeer word. Mense hou mos daarvan om op die een of ander manier meer betrokke by ’n projek te dus is , hierdie maar een van die maniere waarop ons verhoudings met ons besoekers bou.”
Hy sê die Alpaca Loom & Coffee Shop is een van die grootstes van sy soort op die Afrika-vasteland.
“Daar is seker sowat 5 000 alpakkas in die land. Ons het so 350 hier.”
Dié plaas skeer sy alpakkas in die warmer seisoene en die wol word dan gebruik om verskeie kledingstukke soos serpe, handskoene en selfs kombersies te maak.
Die produkte word almal op die plaas per hand vervaardig en verkoop.
Die plaas is geleë op die Suid-Agter-Paarl pad langs die gewilde Spice Route.





