Oktober is die spokerigste maand van die jaar.Foto:

Credit: vectorprro

Oktober is bekend as die spokerigste maand van die jaar wanneer Halloween gevier word en mense trek allerhande interessante en spookagtige kostuums aan.

Drikus Brand, die Paarliet en ’n oud-leerder van die Hoërskool Labori, put soveel genot uit spookstories dat hy sommer ’n radioprogram, Die Onbekende, wat oor hierdie soort stories handel, saam met sy verloof­de, Janike Victor (narvorsing) en vriend Francois Coertze (mede-aanbieder) begin aanbied het. Luisteraars kan elke Donderdagaand tussen 21:00 en 22:00 op Kaapstad Radio inskakel. Dit is ’n internet-radiostasie waarvoor mense selfs die toepassing op hul slimfoon kan aflaai en daarop inskakel.

Brand het om sy beurt twee plaaslike spookstories met Paarl Post-lesers gedeel. Die eerste gaan oor ’n jong ma wat ’n spook in Paarl-hospitaal teëgekom het.

“’n Vrou (naam weerhou), wat swanger was, het in die laat 1980’s in die Paarl-hospitaal se kraamsaal gelê. Sy het toe gekraam, maar haar kind is dadelik van haar weggeneem. Sy is nie toegelaat om haar kind te sien nie. Ná dag drie mog sy steeds nie haar kind gesien het nie en het sy besluit om iets daaraan te doen. Sy het beplan om in die vroeë oggendure na die babakamer te loop en na haar kind te gaan kyk. Gewoonlik is die hospitaal stil en die verpleegsters is nie baie bedrywig nie.

“Net so voor middernag trek sy haar kamerjas en slippertjies aan en maak asof sy badkamer toe gaan. Sy loop ’n ekstra lang draai en loop verby die babakamer, wat in daardie stadium net so ’n klein venstertjie gehad het met ’n gordyn voor en ’n deur met nog ’n kleiner venstertjie in. Sy het deur die venster probeer kyk, maar kon niks sien nie. Sy kyk toe rond en sien daar is niemand in die gange nie en maak die deur oop en gaan binne. Sommer die eerste bedjie het die naam van haar kind. Sy tel haar kind versigtig op en is so dankbaar om haar baba vir die eerste keer te kan sien.

“ ’n Oomblik later kom ’n verpleegster ingestap. Die verpleegster probeer haar uit die babakamer kry, maar sy is bakleierig, want sy wil by haar baba wees. Die volgende oomblik kry sy ’n klap van die verpleegster en toe sy so terugdraai, in die dowwe lig van die saal, sien sy net hoe die gordyn so ’n windbeweging maak en die bruin verpleegsterskoentjies wat voor haar oë verdwyn. Daar was geen verpleegster nie. Die handmerk het vir ses dae op haar wang gesit voordat dit weggegaan het.”

Die storie stuur sonder twyfel ’n koue rilling deur ’n mens se liggaam, en dit laat jou met ’n klomp vrae. Dit is die soort reaksies wat adrenalien in Brand opwek, en só kry hy nooit genoeg van spookstories nie.

Die tweede storie wat hy deel, speel af op ’n plaas in Agter-Paarl.

“ ’n Ou plaasbestuurder van ’n plaas in die Agter-Paarl het die volgende storie met ons gedeel. Die plaas se naam bly geheim. Toe hulle jare terug nog op die betrokke plaas gewoon het, was die kombuisdeur altyd oop, want niemand het meer die sleutel gehad nie. Hulle het net ’n latch op gehad om dit toe te maak. Sommige dae sou hulle in die kombuis kom, dan is die deur gesluit. Al maak jy die latch oop, is die deur heeltemal toegesluit. Dan, as jy later daar verbykom, staan die deur weer oop.

“Die vroue wat die hoofhuis moes gaan skoonmaak nadat die grootbaas oorlede is, het die meeste van die kere geen probleem met die skoonmaak ondervind nie. Maar so elke nou en dan sal hulle die sleutel van die huis kom haal en binne ’n paar minute dit weer terugbring en sê die oubaas wil nie vandag hê hulle moet skoonmaak nie en jaag hulle in die huis rond.

“ ’n Klomp jare later is die plaas ingerig om wyn te maak. Hulle het toe begin nagskofte werk. Om die mense daar veilig te hou, het hulle ’n veiligheidsmaatskappy aangestel om rondes op die plaas te doen om seker te maak daar loop nie ongewenste mense rond nie. Die manne sal nooit twee aande ná mekaar dieselfde rondes doen nie. Hulle vertel van ’n man wat hulle op die plaas rondgejaag het, maar sy voete raak nooit die grond nie. ’n Perd storm ook soms op hulle af, maar hy verdwyn net so voordat hy by hulle kom. Van die wagte het ook al ’n koplose ponie uit ’n boom sien hang.”

Brand sien daarna uit om nog spookstories uit die Paarl, Wellington en omliggende gebiede te vertel. Hy vra inwoners moenie huiwer om in te skakel nie en hul spookstories na info@kaapstadradio.com te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article