Die Drakenstein-munisipaliteit se visie as ’n “stad van uitnemendheid” is onlangs op sosiale media bevraagteken toe ’n foto die ronde gedoen het van verfwerk van rooi lyne in Hoofstraat wat talle Paarliete aan die gons gehad het.
Die rooi geverfde lyne, wat dien as ’n geen-stilhou-sone vir voertuie, het ’n eienaardige patroon gevolg en is binne ’n dag deur konstruksiewerkers ordentlik oorgedoen nadat inwoners geraas gemaak het.
“Baie swak. Waar is die toesighouer of persoon wat moes kyk hoe die werk gedoen is?
“Daar is geen trots in die werk en dit was seker ’n onder-die-tafel-kontrak gewees,” het van die kommentare op ’n plasing op een van die gemeenskap-Facebook-groepe gelui.
David Frost, voorsitter van die Paarl-belastingbetalersorganisasie, het Dinsdag aan Paarl Post gesê hy is verheug om te verneem dat die lyne intussen oorgedoen is, maar is geskok dat dit in die eerste plek goedgekeur is.
“Die belastingbetaler is geregtig op gehaltedienste; dienste wat waarde vir geld bied. Ons beskou hierdie as ’n uitsonderlike geval, maar dit is duidelik dat die nodige toesigwerk hier ontbreek het.
“Die munisipaliteit sal daarin moet belê om mense aan te stel wat seker sal maak sulke werk word met deernis uitgevoer. Werkers sal ook behoorlik opgelei moet word om toe te sien dat inwoners die gehaltedienste ontvang wat hulle verdien. Ek hoop die munisipaliteit het hieruit geleer.”
Louis Pienaar, die direkteur vir ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het by navraag aan Paarl Post gesê hulle was self onkant betrap toe ’n foto van die verfwerk op sosiale media versprei is.
“Die munisipaliteit kan bevestig dat die foto by ’n deel van Hoofstraat in die Paarl afgeneem is.
“Ons vind hierdie fout net so verwarrend soos die publiek aangesien ons ervare en bekwame spanne het wat aan ons paaie werk. Die munisipaliteit ondersoek die saak en sal ons gehaltekontrole nagaan. Die verantwoordelike individue sal aanspreeklik gehou word.”
Pienaar het aan Paarl Post bevestig dat die lyne Maandag (16 Oktober) oorgeverf is.





