Die seevierende KWV-span saam met Christo Pienaar (die Veritas-voorsitter), Carla Cutting, Izéle van Blerk, Lourens Stander, Pieter de Bod, Jaco Marais, Justin Corrans, Ilse du Toit, Kobus Prins, Anneke du Plessis en Kobus van der Merwe.


Opwindende hoogtepunte is bereik by die stylvolle 33ste Veritas-toekennings, gekenmerk deur nog ’n rekordaantal medaljes vir bekende sowel as nuwe handelsmerke, terwyl die Duimpie Bayly Vertex-trofee vir die beste ingeskrewe wyn deur die 2019- Benguela Cove Joie de Vivre Cap Classique gewen is.

Die spoggerige galadinee, bekend as die “Oscars” van die wynbedryf, het teruggekeer na die danssaal van die KIKS, waar die gaste ’n onvergeetlike aand met uithaler-kos, bekroonde wyne en vermaak geniet het.

KWV het ook die kalklig by die Veritas-geselligheid gesteel met ses dubbelgoud-wyne en is daarmee ook as die beste produsent aangewys. Hy is gevolg deur die puik prestasies van Heineken Beverages (Distell) en Wellington Wyne, kort op KWV se hakke met vier dubbelgoud elk. Heineken Beverages het die louere onder brandewyne ingeoes, met vier dubbelgoud, insluitend Van Ryn’s se twee dubbelgoud.

Vier wynmakerye het ook uitgeblink met drie dubbelgoud elk, naamlik Alvi’s Drift Private Cellar, Benguela Cove, Diemersdal en Spier, terwyl ses kelders elk twee dubbelgoud gewen het.

Die uitslae is onder dawerende applous by die galadinee ontvang, waar altesaam 81 dubbelgoud en 179 goud oorhandig is.

Die groot hoogtepunt van die geleentheid, soos in die afgelope ses jaar, was die oorhandiging van die Duimpie Bayly Veritas Vertex-toekenning – vernoem na hierdie legendariese bedryfsrolspeler – vir die algehele kampioenwyn uit 1 247 inskrywings.

Die handgemaakte glastrofee is verower deur die Benguela Cove-keldermeester, Johann Fourie, en sy span vir die 2019 Benguela Cove Joie de Vivre Cap Classique. Dit was die tweede keer dat ’n Cap Classique-wyn hierdie top-toekenning sedert die instelling daarvan losslaan.

KWV het uitgeblink met die meeste dubbelgoud-medaljes vir ses van sy wyn-inskrywings. Dit was die Laborie Blanc de Blancs Cap Classique 2017, KWV Cathedral Cellar Sauvignon Blanc 2021, KWV The Mentors Chenin Blanc 2015, KWV The Mentors Perold 2020, KWV Roodeberg Dr Charles Niehaus 2019 en KWV Roodeberg Reserve 2020.

KWV het ook met nege goues gespog.

Vanjaar se 1 247 inskrywings is deur ’n gesaghebbende jurie van 70 internasionale en plaaslike beoordelaars gedurende vyf dae se blindeproesessies geëvalueer.

Die beoordelaarspanele het uit vyf lede elk bestaan.

Die internasionale beoordelaars was Christine Austin (VK), Jonas Röjerman MW (Swede), Joe Wadsack (VK) en Jo Wessels (Duitsland).

Ses lewende legendes vereer

Die Veritas-tradisie om sedert 2009 bedryfsleiers te vereer, is vanjaar voortgesit. Hierdeur het ses voorste persoonlikhede die 2023 Lewende Legende-ererol ontvang vir hul toewyding tot en geesdrif vir die plaaslike wyn- en brandewyn-bedrywe. Hulle is Gary Baumgarten, Gert Boerssen, Johan Ehlers, Chris Roux, Jacques Roux en Johan Wiese.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article