Die VF Plus het drie uiters belangrike sake reeds sedert November 2021 se munisipale verkiesing aan boord geneem.
Eerstens: Die gebrek aan veiligheid en sekuriteit word nou aangepak met ’n nuwe direktoraat: Veiligheid en Sekuriteit en die aanstelling van ’n nuwe uitvoerende direkteur.
’n Werksessie is gereël deur die stadsbestuurder met afgetrede generaal Roland de Vries van weermagfaam as fasiliteerder met die doel om ’n integrale operasionele plan om alle rolspelers – die stadsraad, polisie, private veiligheidsmaatskappye, gemeenskapsgroepe, buurt- en plaaswagte – in te bind en te koördineer.
Tweedens: Onordelike verstedeliking met 43 plakkerskampe, straatslapery en ’n konstante invloei van mense sonder behuising en meestal sonder werk met al die negatiewe sosiale tendense het gouer as nou aksie nodig.
Met ordelike verstedeliking as riglyn word die probleem aangepak deur ’n komitee van verantwoordelike amptenare uit verskeie departemente onder die voorsitterskap van die stadsbestuurder se verstedeliking- en grondsake-komponent.
Derdens: Die sukkelende toerisme-komponent van DM is goed opgesom met Paarl Post se artikel onder die opskrif: “DM tourism sub-standard”.
In vergelyking met Franschhoek en ander buurdorpe kom Drakenstein-munisipaliteit sleg laaste.
Drastiese aksie is nodig om hierdie situasie te beredder met ’n innoverende toerisme-poging en die VF Plus verstaan daar is gesprekke met kundiges aan die gang vir ’n plan op die tafel, wat ons sal monitor.



