Lede van verskeie polisietaakspanne het Sondagoggend (5 November) ’n vragmotor vasgetrek wat onwettige sigarette ter waarde van R22 miljoen vervoer het.
Dit kom nadat die polisie inligting ontvang het van ’n vragmotor wat onwettige goedere van Johannesburg na Kaapstad vervoer.
Die inligting is geoperasionaliseer en die betrokke rolspelers is gemobiliseer vir ’n gesamentlike operasie waartydens die vragmotor naby die Joostenberg-weegbrug op die N1 rigting Kaapstad onderskep is.
Na verdere ondersoeke het die lede ’n groot besending onwettige sigarette met ’n geraamde straatwaarde van R22 miljoen ontdek wat vir ’n pakhuis in Montagu Gardens bestem was.
Grenspolisie en doeane het die onwettige goedere (sigarette) bevestig en twee mans van 34 en 62 jaar oud is na die Klapmuts-polisiestasie geneem waar hulle gearresteer en aangehou is weens die besit en vervoer van onwettige goedere. Hulle sal in die Paarl-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla word.





