Die Drakenstein-munisipaliteit se Paarl-afvalwatersuiweringswerke (WWTW) word oor die volgende drie jaar opgegradeer danksy R1,4 miljard wat deur die nasionale tesourie hiervoor bewillig is.
Hierdie nuwe Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur-projek (BFI) sal die munisipaliteit help om die geskikte behandeling van afvalwater te verseker wat sal help om die Bergrivier, ’n lewensbelangrike bron van lewe in die gebied, te bewaar. Dit sal die munisipaliteit ook in staat stel om in ’n latere stadium groenenergie deur biogas-energie-opwekking by sy Paarl-afvalwatersuiweringswerke te bevorder.
“Die doel van die BFI-projek is om die opknapping van verouderde en vervalle infrastruktuur sowel as kapasiteitsopgraderings van behandelingstrome om aan huidige en toekomstige eise te voldoen, aan te pak,” het André Kowalewski, bestuurder vir water- en afvalwaterdienste by die munisipaliteit, by die amptelike sooispitseremonie van die Paarl WWTW se opgradering en opknapping Woensdag 25 Oktober by die aanleg in Drommedarisstraat, Paarl, gesê.
Die nasionale tesourie het verlede jaar die BFI-toelae van R1,4 miljard aan die munisipaliteit toegeken vir opgradering en rehabilitasie van die waterwerke in die Paarl/Wellington-omgewing. Die opgradering en opknapping van die Paarlse WWTW is deel van die eerste fase van die projek wat oor ’n tydperk van drie boekjare sal strek.
Kowalewski het by die seremonie die behoefte aan volhoubare water- en sanitasie-infrastruktuurontwikkeling beklemtoon om in die groeiende vraag in die gebied te voorsien. In September alleen het die munisipaliteit 136 bouplanne van ongeveer R121,5 miljoen goedgekeur.
Van hierdie goedgekeurde bouplanne bestaan 87,5% uit nuwe residensiële geboue, asook aanbouings en veranderings aan bestaande geboue.
Die omvang van werk in die BFI-projek se eerste fase sluit in:
. Sloop ongebruikte infrastruktuur;. Konstruksie van ’n nuwe rioolopheffingstasie en inlaatwerke;. Die vestiging van ’n nuwe primêre sliksifting- en pompstasie;. Byvoeging van drie primêre besinkingstenks;. Opknapping van bestaande primêre besinkingstenks;. Oprigting van ’n nuwe administratiewe gebou;. Opgradering van die ontsmettingsgebied, elektriese netwerk en beheer en instrumentasie;. Verbetering van algemene siviele werke soos paaie, stormwater en heinings; en. Skoonmaak van rypwordingsdamme.
Kowalewski het gesê die hele projek is ’n direkte bemiddelaar vir toekomstige ontwikkeling, wat ekonomiese en sosio-ekonomiese voordele vir die munisipaliteit se mees kwesbare gemeenskappe sal bied.
Die ander fase, waar bouwerk reeds begin het, sluit die bou van die Suider-Paarl-grootmaatrioolwerke in, wat volhoubaarheid en veerkragtigheid verseker.
Die tesourie ken hierdie toelaes toe aan geselekteerde munisipaliteite om groot en strategiese ingrypings te finansier.
Projekte behoort ’n minimum algehele koste van R1 miljard te hê en behoort ’n aansienlike langtermyn-invloed op ekonomiese groei, maatskaplike gelykheid en werkskepping te hê.
Inwoners oor Drakenstein heen sal baat vind by hierdie R1,4-miljard-toelae aangesien dit verhoogde grootmaat- rioolkapasiteit sal verseker om toekomstige ontwikkelings te ontsluit, wat gemeenskaps- en private residensiële behuising, kommersiële spilpunte en nywerheidsgeleenthede insluit. Die voordele is:. Verbeterde rioolsuiweringsprosesse, sowel as verminderde energievraag, en bedryfs- en instandhoudingskoste by die Paarl WWTW;. Verbeterde gehalte van uitvloeisel wat in die Bergrivier vrygestel word – noodsaaklik vir die bestaan van omliggende gemeenskappe (huishoudelik en landbou, en veral produsente van uitvoervrugte en produkte);. Versekerde voldoening aan voorgeskrewe uitvloeiwatergehaltestandaarde;. Beduidende ekonomiese en sosio-ekonomiese voordele (m.a.w. werksgeleenthede, sowel as om openbare en privaatsektor-investering te lok, wat die groei van die plaaslike ekonomie verseker);. ’n Verhoogde belastingbasis en inkomstegenerering; en. Volhoubare geleenthede soos groenenergie (d.w.s. die transformasie van slyk in biogas) wat die hoë elektrisiteitsaanvraag by die Paarlse WWTW sal verminder.
Die BFI-projek is nodig, aangesien verskeie geïntegreerde residensiële en kommersiële ontwikkelings met merkbare ekonomiese en sosio-ekonomiese voordele beplan word – spesifiek suid van die Paarl – wat bykomende druk op bestaande stelsels sal plaas. Die afvalwater- en slykbehandelingskapasiteit vir Paarl, Wellington en omstreke sal met die BFI-projek toeneem en dit sal help om die huidige eise te akkommodeer en voorsiening te maak vir toekomstige eise en ontwikkelings.. Drakenstein-munisipaliteit het onlangs een van slegs 22 afvalwaterstelsels uit 850 in Suid-Afrika en een van slegs drie Wes-Kaapse munisipaliteite geword wat Groendruppel-status van die departement van water en sanitasie ontvang het.
Die Groendruppel-sertifisering is ’n aansporing-gebaseerde reguleringsprogram van die DWS. Munisipaliteite ontvang Groendruppel-status wanneer hulle tellings van 90% of hoër teen streng Groendruppel-assesseringsvereistes behaal.
Die munisipaliteit se Hermon-afvalwaterbehandelingstelsel het ’n indrukwekkende 93% behaal.





