Drakenstein-munisipaliteit se hoofkantoor in die Bergrivier-boulevard.Foto: Argief

Credit: SYSTEM

Dit is geen geheim dat al hoe meer mense die noorde van die land vir die Wes-Kaap verruil nie, met veral ’n instroming van mense na die Kaapse Wynlande en ook die Drakenstein-munisipaliteit.

As gevolg hiervan moet al meer behuisingsgeleenthede geskep word, wat dikwels die vorm van landgoedere in die Drakenstein inneem.

Paarl Post het uitgereik na die Drakenstein-munisipaliteit om te hoor hoe die munisipaliteit die semigrasie van mense na die gebied hanteer, veral ten opsigte van padinfrastruktuur en die opknapping daarvan.

Volgens Seraj Johaar, uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste van die Drakenstein-munisipaliteit, het die munisipaliteit die afgelope vyf jaar goedkeuring aan 11 nuwe landgoedere suid en noord van die N1 verleen.

“Ontwikkeling word gedryf deur ’n groeiende aanvraag, en dit is duidelik dat ’n aansienlike behoefte aan behuising in Drakenstein teenoor ander munisipaliteite bestaan,” het Johaar gesê.

Tydens die evaluering van ’n ontwikkelingsaansoek word onder meer die volgende kriteria oorweeg:. Dat die uitleg van die ontwikkeling funksioneel sal wees.. Dat genoegsame park- en gemeenskapsfasiliteitspersele voorsien sal word.. Dat aan alle nodige omgewings- en erfeniswetgewing in die land voldoen word.. Dat doenlike en veilige toegang voorsien kan word, wat die vereistes van die provinsiale padingenieur of die munisipaliteit se ingenieursdepartement betref.. Dat die nodige grootmaat-ingenieursdienste beskikbaar is of voorsien kan word.

Padinfrastruktuur om dié groeiende semigrasie te ondersteun, duur tans voort met onder meer die alombekende R301, wat tans opknapping ondergaan om gevestigde landgoedere soos Pearl Valley en Val de Vie met die Paarlse middedorp te verbind.

Toekomstige projekte, volgens Johaar, op die provinsiale netwerk sluit in die:. Verdubbeling van Jan van Riebeeckweg tussen Van der Stel- en Oosboschstraat.. Opknapping van die R101- Ou Paarl-pad na Klapmuts asook die R45 na Simondium.. Verlenging van Bergrivier-boulevard na Noorder-Paarl om by die R45 na Malmesbury aan te sluit. . Opknapping van Markstraat tussen die Bergrivier-boulevard en Jan van Riebeeck-rylaan.. Verbetering van Langenhovenstraat van Jan van Riebeeck-rylaan tot by Van der Stelstraat.. Verlenging van Van der Stelstraat oor die Bergrivier om by Bergrivier-boulevard aan te sluit.. Opknapping van Lustiganweg van Van der Stelstraat reg deur tot by die N1.. Verbetering van Carolinaweg, Distillery- en Optenhorststraat.

“Prioriteite kan uiteraard verander volgens omstandighede en aanvraag deur aanliggende ontwikkeling.”

“Dit is moeilik om ’n tydraamwerk aan die projekte te koppel, gesien in die lig van die onsekerheid oor die beskikbare begrotings van die provinsiale departement van infrastruktuur, wat die meeste tot die koste bedra. Daarnaas moet die [Drakenstein-]munisipaliteit die statutêre bydrae tot die ontwikkeling van die netwerk uit sy eie begroting lewer, asook aanliggende ontwikkelings wat aanspreeklik gehou word vir die koste van die benodigde opknapping,” het Johaar verduidelik.

Nietemin, volgens hom sal opknapping alleenlik nie net verkeersknope oplos nie, maar dit sal in samewerking met ander verkeerbeheermaatreëls gebruik word.

“Daarom is dit noodsaaklik om infrastruktuur soos verkeersligte te installeer en te verseker dat die installasies deurlopend funksioneer [ook tydens beurtkrag].”

“ ’n Program is reeds in gestel om die nodige installasies uit te voer en sodoende te verseker dat optimale verkeersvloei binne die beskikbare ruimte gehandhaaf kan word,” het Johaar gesê.

Buiten die bekommernis oor padinfrastruktuur en die broodnodige opknappingswerk hieraan by Drakenstein-inwoners is nóg ’n bekommernis die tekort aan skole in die streek.

Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), is die departement tans besig om sy begroting na te gaan voordat enige kommentaar oor die oprig van toekomstige skole kan geskied.

“Die WKOD finaliseer tans sy infrastruktuurplan vir die res van die boekjaar. Daar is wyd berig dat daar fiskale besnoeiings in alle provinsies is, wat ons infrastruktuurbegroting beïnvloed het,” volgens Hammond.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article