Die Paarl-krieketklub (KK) het verlede naweek uitstekend gevaar om vir die eindstryde van die Boland-T20-Gemeenskapsbeker te kwalifiseer.
Saterdag het hy Worcester United maklik met 6 paaltjies geklop, terwyl hulle Sondag op ’n drafstap met 64 lopies teen Wellington gewen het.
Boonop het Paarl se B-span, Paarl II, ook sy stem dik gemaak met seges in die voorwedstryde. Hy het Worcester United II met 11 lopies en Wellington II met 42 lopies geklop.
Met ’n onoorwonne rekord deur al twee die Paarl-spanne, het hulle deurgedring na die eindstryde wat Saterdag om 10:00 en 14:30 op die Boland-stadion gespeel word. Hul teenstanders is die spanne van Vredenburg- Saldanha KK, wie se twee spanne ook deurgedring het.
Paarl KK se afrigter is gelukkig dat sy groep op volle sterkte is en dit sal interessant wees om te sien watter kombinasie hy vir die Bolandse blad sal kies.
Worcester United het Saterdag vroeg klei getrap nadat hy die loot gewen het. Op 10/4 in die sesde boulbeurt moes Charlton Fransman (27) en Edwahl Felix (36 n.u.n.) kom wal gooi teen Paarl se Taiwyn Adams (4-1-15-1), Waylain September (3-0-8-1) en Byron Cook (2-0-18-1). Die kaptein, Edrique Cook (2-0-15-4) het egter die leisels oorgeneem om die besoekers vir 96 uit te knikker. Met JJ van der Sandt (26 n.u.n., 2×6) aan die spits en goeie ondersteuning van Jaywin Solomons (23, 1×4, 2×6), het Paarl (100/4) die oorwinning beklink.
Sondag het Paarl die loot gewen en 147/7 opgestapel, danksy Javier Visser (65, 8×4, 1×6) en Herschelle Poggenpoel (33). Hul tweedepaaltjie-vennootskap van 96 lopies het die grondslag vir die tuisspan gelê, met Du Plooy (4/20) wat die beste met die bal vir Wellington gevaar het. Slegs Kieran Dreyden (26) kon met die kolf hond haaraf maak teen Paarl se Taiwyn Adams (4-2-11-2), Henrico Albertus (4-0-19-2), Liam Muller (3.2-0-6-2), Byron Cook (3-0-16-1) en Edrique Cook (0.4-0-3-1), wat die besoekers tot 83/9 beperk het.
Paarl II se uitblinkers teen Worcester United II was Leswin Titus (52 n.u.n., 4×4, 1×6) terwyl Cullen Heugh (4-1-21-2) en Raynier Beukes (4-0-23-3) die oog met die bal gevang het. Jaywin Solomons (35, 3×4, 1×6) en Wesley Euley (47, 6×4, 2×6) het ook die boulers laat bontstaan.
Titus (41, 4×4, 1×6) was Sondag weer in goeie vorm vir Paarl II teen Wellington II om sy span se telling tot by 120/9 te bring. Die veteraan Alfredo Adams (4-0-16-6) was in ’n vernietigende bui met sy linkerhandse draaiboulwerk en Wellington II is vir slegs 78 uitgeboul.





