’n Onlangse opname deur die Drakenstein-munisipaliteit toon dat daar bykans 500 haweloses in die vallei is.Foto: Rasaad Adams


Dit is ’n vriendelike inisiatief wat daarop gemik is om nie net die uitdagings met haweloosheid in die Paarl hok te slaan nie, maar ook om maniere te vind waarop haweloses met meer volhoubare oplossings gehelp kan word.

So sê Mark van Eyssen, ’n gemeenskapsveiligheid-aktivis en nou verbonde aan die organisasie People Off The Streets (POTS), wat tans in die registrasieproses is, nadat dié organisasie en talle ander met regeringsinstansies, soos die polisie, wetstoepassing en die munisipale raad, hande gevat het om die kwessie van haweloosheid in Drakenstein aan te durf.

Paarl Post het vroeër berig ’n onlangse studie deur die Drakenstein-munisipaliteit het getoon bykans 500 haweloses bevind hulle in die munisipale gebiede van die Paarl, Wellington, Gouda, Mbekweni, Simondium en Saron.

Talle sakeondernemings – spesifiek in die Paarl – het hul ongelukkigheid uitgespreek oor die uitwerking wat haweloses op hul ondernemings het deur byvoorbeeld voor hul persele te slaap en dit te bemors.

Volgens Van Eyssen sal die Drakenstein-haweloosheidsforum nie noodwendig ’n aggressiewe benadering tot die probleem volg nie, maar eerder poog om die invloed van haweloosheid op die munisipaliteit te verminder, asook om mense van die straat af te kry.

Die forum is onlangs gestig op ’n vergadering wat deur Van Eyssen met die munisipaliteit en verskeie belanghebbendes beroep is.

“Onder die Drakenstein-haweloosheidsforum ressorteer al die rolspelers in die munisipaliteit wat verantwoordbaar is vir haweloosheid, tesame met die verskeie nieregeringsorganisasies wat ons aan boord het.

“Dit is hoofsaaklik ’n kommunikasieplatform sodat almal op dieselfde bladsy is, idees kan uitruil en mekaar se hande sterk kan maak om dié kwessie in die munisipaliteit te bestuur.

“Ons wil kyk na die redes hoekom mense op straat beland en hulle terug in die arbeidsektor probeer kry.

“Baie van hierdie mense sukkel met geestesgesondheid en verslawing. Dis is uiters kompleks, en daarom moet ons koppe bymekaarsit om hierdie ding te bestuur.”

Hy meen haweloosheid “skep ’n kultuur van armoede in gemeenskappe” en spoor soms misdadigheid aan.

“Die meeste van die haweloses is nie misdadigers nie, maar begin hulself weens hul omstandighede aan kleiner misdrywe blootstel. Ons moet ook erken dat van hulle ons dorpe onnet maak.

“Die harde werk wat gedoen word om ’n netjiese omgewing te skep, word daardeur afgebreek. Hierdie is regtig nie ’n aggressiewe beweging nie, maar eerder om hulle te help.”

Van die organisasies wat by die forum betrokke is, sluit in die Heart NPO, Esther Ark en Networking For Christ.

Hierdie organisasies fokus onder meer op vroue en kinders op straat, bied skuiling aan haweloses en probeer ook haweloses met hul families herenig (in die geval van die Heart NPO).

Gerald Esau, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het by vorige navraag aan Paarl Post gesê die munisipaliteit is in fase twee van sy planne om ’n nuwe nagskuiling in die Paarl te open.

Intussen sê talle organisasies wat hulle vir haweloses se welstand beywer, dat daar baie meer as 500 mense op die vallei se strate is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article