Danksy vinnige optrede van verskeie rolspelers betrokke by Snare Free, is hierdie rooikat van ’n gewisse dood gered.Foto: Andree Bonthuys


Sowat drie maande gelede – op 1 Augustus – het vooraanstaande bewarings-, dierewelsyn- en vrywilligersorganisasies in die Wes-Kaap kragte saamgesnoer om Snare Free van stapel te stuur – ’n inisiatief met veelvuldige komponente, wat daarop gemik is om ’n gekoördineerde reaksie op voorvalle van strikke vir wild in die provinsie te bied.

Die behoefte aan en voordeel van Snare Free is onlangs duidelik ten toon gestel toe die Snare Free-blitslyn ’n oproep ontvang het van iemand wat hulp versoek het vir ’n rooikat wat in ’n strik aan ’n draadheining in die Hemel-en-Aarde-vallei, Overberg, vasgevang is.

Nadat die voorval bevestig is, is die Wes-Kaapse Snare Response Plan (WCSRP) geaktiveer, wat ingesluit het om die betrokke bewaringsowerhede in kennis te stel en vir ’n wildveearts te reël. Terwyl hy gewag het vir hulp om op te daag, het die man wat dit aangemeld het, seker gemaak mense word uit die gebied gehou om enige onnodige nood vir die dier tot die minimum te beperk.

’n Veearts van Caledon-veeartskliniek en ’n veldwagter van die Overstrand-munisipaliteit het op die voorval gereageer, met toesig oor die toneel deur die aangewese CapeNature reservaatbestuurder. Die rooikat – ’n jong dog volwasse mannetjie – is verdoof en die strik om sy onderbuik is verwyder. Ná ’n ondersoek is vasgestel dat die beserings oppervlakkig was – onder meer omdat dit vinnig aangemeld is en danksy vinnige en doeltreffende optrede. Die rooikat is met ’n langwerkende antibiotika ingespuit om moontlike infeksie te voorkom en is kort daarna in ’n nabygeleë natuurlike ruimte vrygelaat.

’n Maand ná die voorval, op 3 Oktober, is nog ’n jong mannetjies­rooikat in ’n strik in ’n wingerd in die Overberg-omgewing gevang. Die WCSRP is weer op versoek van CapeNature gemobiliseer. Die rooikat is verdoof, die strik van die bekken verwyder en die kat se beserings ondersoek. Ongelukkig was dit duidelik dat dié dier al lank in die strik was. Die rooikat het uitgebreide wonde gehad wat nie sou kon genees nie en is op die toneel van kant gemaak. Die karkas is na die Stedelike Rooikatprojek gestuur en sal bydra tot navorsing oor rooikatte en hul bedreigings in die Wes-Kaap.

Ten spyte van sulke pogings kan alle diere ongelukkig nie gered word nie. Hierdie voorval beklemtoon weer eens die wreedheid van strikke as ’n manier van jag.

In die drie maande sedert die bekendstelling van Snare Free het die Cape Leopard Trust (CLT) nege aanbiedings, werksessies en opleidingsessies gedoen vir meer as 350 mense van ’n diverse groep belanghebbendes, grondbestuurders, studente en lede van die publiek, insluitend KSUT-natuurbewaring­studente, die Stad Kaapstad se biodiversiteitsbestuur, Bewaring by die werk, Wes-Kaapse verkenners en Vriende van Wes-Kaapse omgewingsopvoeding.

CapeNature het ook ’n strikbewusmakingsveldtog gehou en patrollies vir strikverwydering in gemeenskappe langs die Weskus gelei.

Een werksessie, wat ’n besonder treffende voorbeeld van die waarde van Snare Free is, is die onlangse halfdagsessie wat vir grondeienaars in die Hemel-en-Aarde-vallei gehou is. Op die dag van die rooikatredding in September het ’n inwoner van die omgewing, wat via hul WhatsApp-gemeenskapsgroep van die voorval gehoor het, opleiding in strikbewustheid vir die gebied aangevra. Binne ’n dag het lede van die gemeenskap ’n datum en geborgde plek gereël, en die uitnodiging via hul netwerke gedeel.

Hierdie Snare Aware-werksessie is op 23 Oktober gehou om grondeienaars, bestuurders en inwoners van inligting en praktiese vaardighede te voorsien om vangstrikke te hanteer. Dit is bygewoon deur mense van die vallei en nabygeleë dorpe, asook sommige van so ver as Kaapstad en die Paarl. Die werksessie is goed ontvang en deelnemers het reeds foto’s van strikke op die CLT-toepassing geplaas. Dit is presies die soort proaktiewe en positiewe optrede wat deur Snare Free aangemoedig word.

By die bekendstelling van Snare Free het Katy Williams, die direkteur van navorsing en bewaring van Cape Leopard Trust, gesê dit is die organisasie se hoop dat die Snare Free-projekmodel wyd gedeel sal word.

“Ons voorsien dat hierdie soort inisiatief elders herhaalbaar sal wees,” het Williams gesê.

Sedert sy ontstaan het Snare Free verskeie versoeke van ander provinsies vir leiding en insette ontvang, wat die dringende behoefte aan samewerkende optrede om die toename in onwettige strikjag te bestuur onderskryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article