Die bekroonde hergebruik-entrepreneur Lizl Naudé is op ’n missie om die Paarl skoon te hou deur herwinbare materiaal soos plastiek in te samel en dit ’n nuwe lewe te gee.
“Ons het op 12 Oktober ’n afvalinsamelingsveldtog in samewerking met The Roots Pantry in die Paarl van stapel gestuur. Die inwoners van ons pragtige dorp word uitgenooi om hul skoon, huishoudelike plastiek-afval te skenk en dit by The Roots Pantry in Stasiestraat, Suider-Paarl, af te laai. Op ons beurt sal ons die plastiek van die stortingsterrein kry en pragtige en bruikbare leefstyl-items skep, wat steeds waarde tot mense se lewe toevoeg. Dit dra dus by tot die sirkulêre ekonomie,” verduidelik Naudé oor die nuwe veldtog.
“In vergelyking met Europa en sommige Eerstewêreldlande, is Suid-Afrika agter ten opsigte van die raaksien van die waarde van herwinning en hergebruik. Oor die afgelope vyf jaar het Lilly Loompa Upcycled Homeware hierdie verhaal verander deur produkte van hoë gehalte, wat van afvalmateriaal gemaak is, te vervaardig en dit aan die mark bekend te stel.”
Volgens Naudé versamel hulle al die materiale wat hulle gebruik om nuwe produkte te skep by naburige wynplase, bouterreine, industriële kombuise, vullisstortingsterreine en private huise.
Die visie wat die missie voortdryf, is “Baan die weg na ’n skoner Suid-Afrika deur innoverende hergebruik”.
Naudé het haar onderneming in 2003 onverwags op die been gebring. Sy het by ’n stel trappe afgeval en moes vir ’n paar weke in die bed herstel, maar sy is nie iemand wat kan stilsit nie. Sy is altyd besig om haar kreatiewe idees na vore te bring, en het begin om juweliersware te maak.
Nadat sy herstel het en terug by die werk was, het haar kollegas groot belangstelling getoon in die juweliersware wat sy geskep het. Naudé het haar voltydse werk mettertyd bedank en al haar aandag aan Lilly Loompa bestee.
“Ek was nog altyd kreatief, maar het dit eers as tiener besef. Die naam Lilly Loompa is ook baie persoonlik. Toe ek my juweliersmaatskappy begin het, het ek besef ek moet ’n naam kies wat vir geslagte gaan hou. Dis toe dat ek die naam om my kinderdae gebou het. Lilly was my bynaam as kind en Loompa kom van die Oompa Loompa-karakters van die Charlie and the Chocolate Factory-boek – my gunsteling as kind.”
Hoewel dit alles soos ’n droom gevul met sukses klink, was dit nie altyd maanskyn en rose vir Naudé en haar gesin nie. Daar was baie kere dat hulle ook gesukkel het om kop bo water te hou.
Hoewel Naudé steeds nuwe goed gemaak het, moes sy Lilly Loompa noodgedwonge opsy sit. Hulle het tussen 2006 en 2016 groot finansiële probleme in die gesig gestaar. Sy en haar man, Ashley, het ook ’n konstruksie-maatskappy besit, maar dit het weens ’n swak belegging misluk.
Eendag het die moedeloosheid en desperaatheid Naudé getref en sy het op haar knieë geval en die Here gevra vir ’n idee vir ’n inkomste.
“Toe ek my oë oopmaak, sien ek ’n rommelhoop. Ek het onmiddellik geweet – dis die uitweg vir my en my gesin. Daar is waarde in rommel. Ek en my gesin het in 2016 terug Paarl toe getrek nadat ons vir jare in Johannesburg gewoon het. Ek het Lilly Loompa in September dieselfde jaar laat herleef en haar as ’n ekoprodukte-etiket bekendgestel. Ek het begin handel dryf en in 2018 die maatskappy Lilly Loompa Creative amptelik geregistreer.
“Lilly Loompa (Edms) Bpk doen sedert 2018 sake en het tans drie mense en uitgekontrakteerde spanne in diens. Ons poog om Suid-Afrika deur innoverende herwinning skoon te maak. Ons doelwit is om die hoeveelheid afval na stortingsterreine te verminder deur gewenste en bruikbare huiswareprodukte te ontwerp en te vervaardig, wat mense in ons aanlyn winkel en ons B2B-infrastruktuur kan koop.”
Naudé se werk gaan gewis nie ongesiens verby nie. In 2020 is sy as die wenner van Suid-Afrika se “vroue-entrepreneur in klimaatverandering” gekroon. Sy het ook twee jaar gelede een van die Mail & Guardian se “Greening the Future”-omgewingspryse opgeraap.
Naudé sê haar onderneming het ’n langtermyn tweeledige plan om Suid-Afrika skoner te maak deur herwinning en die hergebruik van materiale. Die plan behels om hande te neem met wetenskaplikes en ingenieurs van die Universiteit Stellenbosch en die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR) en te kyk na die skepping van ’n nuwe soort materiaal uit huidige afvalstrome.
“Ons glo daar is waarde in afval wat oor die hoof gesien word, en met meer navorsing en vernuwing kan dit ’n broodnodige grondstof wees. As die nuwe materiaal as veilig en bruikbaar beskou word, wil ons nuwe produkte skep wat direk aan die publiek by ons winkels en aanlyn verkoop kan word.”. Besoek Lilly Loompa Upcycled Homeware op sosiale media vir meer inligting oor die nuwe veldtog en die produkte wat uit herwinbare materiaal geskep word.





